Koste vir Onafhanklikheidstadion klim
Die geraamde koste om Windhoek se Onafhanklikheidstadion op te gradeer en ’n gepaardgaande oefenfasiliteit te ontwikkel, het tot N$3,8 miljard gestyg – byna dubbel die beraming van N$2 miljard wat verlede jaar in ’n haalbaarheidstudie vervat was.
Dit is ondanks die sowat N$38 miljoen wat die regering aan konsultasie bestee het.
Die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur het ook onthul verskeie ander stadionprojekte oraloor die land bly in die voorbereidingsfase, terwyl ander weens befondsingsbeperkings uitgestel is.
Dit is vervat in ’n skriftelike antwoord deur die ministerie se uitvoerende direkteur, Gerard Vries, aan Republikein.
“Die jongste konsultant se raming plaas die opgraderings van die Onafhanklikheidstadion op ongeveer N$3,225 miljard. Dit sluit ook ’n oefenfasiliteit in wat N$602 miljoen sal kos, wat die totale koste op N$3,827 miljard te staan bring,” sê Vries.
Hy sê egter die regering het die bedrag nog nie goedgekeur nie.
Die jongste raming kom nadat die adjunkminister Dino Ballotti in April aangekondig het N$60 miljoen is vir die 2026-’27-boekjaar toegeken om die stadion op te gradeer.
Die Onafhanklikheidstadion is vir opgradering geoormerk nadat dit nie aan die Konfederasie van Afrika-sokker (CAF) se vereistes voldoen het om internasionale sokkerwedstryde aan te bied nie.
Dit het Namibië se nasionale sokkerspanne gedwing om tuiswedstryde buite die land te speel.
“Sedert 2023 het die ministerie omvattende tegniese ondersoeke, haalbaarheidstudies, ingenieursbeoordelings, argitektoniese ontwerpe, voorbereiding van gedetailleerde ontwerpe en tekeninge, hoeveelheidslyste en verkrygingsdokumentasie onderneem,” sê Vries.
Hy sê die regering het CAF se jongste tegniese beoordeling van die hersiene ontwerpe vir die stadion op 4 November ontvang.
“Die beoordeling het aansienlike vordering erken om CAF se vereistes aan te spreek en bevestig dat die voorgestelde ontwerp ’n sterk grondslag bied vir ’n moderne stadion wat aan CAF-standaarde voldoen, onderhewig aan verdere verfynings.” het Vries gesê.
Ten spyte daarvan dat daar vroeër aangedui is kontrakteurverkryging sou gedurende die tweede kwartaal van die huidige boekjaar begin, sê die ministerie die regering beoordeel steeds die projek.
CAF-STANDAARDE
Intussen bly vier ander stadions wat vir ontwikkeling tot CAF-standaarde vir kategorie drie by Oshakati, Swakopmund, Rundu en Keetmanshoop geoormerk is, in die voorbereidingsfase.
Vries sê die regering het die opdragbepalings vir die Oshakati-stadion voltooi, maar moet nog konsultasiedienste verkry. Dieselfde geld vir die beplande stadions by Swakopmund, Rundu en Keetmanshoop.
“Die opdragbepalings is voltooi en die volgende fase behels die verkryging van konsultasiedienste en die aanvang van haalbaarheidsondersoeke, onderhewig aan die beskikbaarheid van befondsing.”
STREEKPROJEKTE
Vier streekprojekte vir stadions by Omuthiya, Otjiwarongo, Mariental en Gobabis is egter uitgestel.
“In die geval van Gobabis is begrotingshertoekennings gedoen om ander prioriteitsprojekte te akkommodeer,” sê Vries.
Die beplande stadions by Opuwo en Katima Mulilo ondergaan steeds haalbaarheidstudies, terwyl Outapi in die voorbereidingsfase vir konsultasieverkryging bly.
Die ministerie verwag dat die veeldoelige sportstadions van Eenhana en Nkurenkuru teen 31 Maart 2027 voltooi en vir die publiek geopen sal word, onderhewig aan die voltooiing van hul oorblywende boufases.
President Netumbo Nandi-Ndaitwah het haar daartoe verbind om sportinfrastruktuur oor al 121 kiesafdelings te ontwikkel.
In April is berig die Paaiekontrakteursmaatskappy (RCC) het ’n bykomende lening van N$500 miljoen by die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) aangevra om sportgeriewe landswyd te bou.
Mediaberigte het aangedui N$5 miljoen is per basiese sportfasiliteit toegeken, wat op N$140 miljoen vir 28 fasiliteite in die land se 14 streke neerkom.
Vries sê nou die verantwoordelikheid vir die implementering van die 28 sportprojekte is deur die kantore van streekgoewerneurs na die kantoor van die president oorgedra.
“Gevolglik is die ministerie tans nie in ’n posisie om geverifieerde vorderingsopdaterings by die individuele fasiliteite te verskaf nie, aangesien die betrokke projekspesifieke inligting by die onderskeie implementerende owerhede berus,” het hy bygevoeg.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie