Keetmanshoop skop droog

Toevoer moontlik vandag herstel
Verskeie pypbreuke op die pyplyn vanaf die Nautedam tot by Keetmanshoop het inwoners vir 'n dag of wat sonder water gelaat.
Henriette Lamprecht
Verskeie pypbreuke die afgelope dae het veroorsaak dat inwoners op Keetmanshoop se krane droog geloop het. Die watervoorsiener NamWater en die dorp se munisipaliteit was teen druktyd optimisties dat die toevoer teen vandag herstel sou wees. Volgens ’n ingeligte bron op die dorp was die breuke “’n konstante uitdaging”. NamWater is verantwoordelik vir die hoofmaatvoorsiening tot in die reservoirs op die dorp, waarna die water in die retikulasiepype van die munisipaliteit na inwoners en besighede versprei word. “Die grootmaatvoorsiening vanaf die Nautedam loop oor ’n afstand van 60 km. Op die pyplyn was omtrent elke dag twee tot drie breuke. Jy het dit net hier toegemaak, dan bars dit weer daar,” het die bron gesê. Volgens hom is dit iets wat “bitter min” gebeur en is die watervoorsiener “gedurig besig met ondersoeke op die pyplyn”. Die bron het erken die “pyp gaan agteruit” en 7 km is reeds met nuwe pype vervang. Volgens hom is die duurste komponent van watervoorsiening ’n pyplyn. Hy het beklemtoon Keetmanshopers het “99,99% van die tyd lopende water”. NamWater het in ’n verklaring gesê die voorsieningstelsel was teen gisteroggend herstel en die plan was om teen 09:00 met watervoorsiening te begin. Modder en afval is egter met die nuwe, inkomende vloei binne die pyplyn opgemerk wat van die Nautedam na die dorp loop. Die watervoorsiener het beklemtoon dit kan nie water wat bruin is in die munisipale stelsel pomp nie en moes gevolglik van die reservoirs op die dorp eers skoonmaak. Sou water wat nie op die vereiste standaard is nie in die stelsel gevoer word, sal dit tot verdere probleme binne die munisipale pypstelsel lei. Volgens NamWater moet die pype van die dorp eers vol loop, voordat die krane weer oopgedraai kan word. Dié proses kan tot 12 ure duur, sou niks verkeerd loop nie. Intussen berig Monique Adams op Keetmanshoop skole op die dorp het besluit om leerlinge eerder huis toe te stuur totdat die waterprobleme iets van die verlede is. Die junior departementshoof van die Primêre Skool Keetmanshoop, me. Carolina van Zyl, het haar kommer oor higiëne by die skool uitgespreek weens die gebrek aan water en die feit dat toilette nie gespoel kan word nie. – [email protected][email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer