Die Kaisosi-behuisingsprojek op Rundu. FOTO ELIOT IPINGE
Die Kaisosi-behuisingsprojek op Rundu. FOTO ELIOT IPINGE

Kaisosi-huiseienaars moeg vir verskonings

Betaal huur én banklenings
Die behuisingsprojek wat deur die Helmsman Group ontwikkel en deur die Chinese sakevrou, Stina Wu, besit word, is veronderstel om te help om in Rundu se groeiende aanvraag na behuising te voorsien.
Eliot Ipinge

Huiseienaars wat geraak word deur vertragings in die voltooiing van huise onder die Kaisosi-behuisingsontwikkeling op Rundu, sê die ontwikkelaar se verduidelikings vir die voortgesette vertraging in konstruksie is “ou nuus”. 

Volgens die eienaars moet praktiese oplossings eerder gegee word vir die rede waarom hulle steeds nie by hul huise kan intrek nie. 

Die behuisingsprojek wat deur die Helmsman Group ontwikkel en deur die Chinese sakevrou Stina Wu, besit word, is veronderstel om te help om in die dorp se groeiende aanvraag na behuising te voorsien. Verskeie van die voornemende huiseienaars het banklenings verkry om hul eiendomme onder die projek te finansier.

Konstruksie het egter in 2020 tot stilstand gekom, wat verskeie kopers genoop het om verbande vir huise af te betaal wat hulle steeds nie kan bewoon nie. 

Helmsman Group het onlangs die vertragings in konstruksie erken en die terugslae toegeskryf aan ’n reeks faktore. 

Dit sluit in grondgeskille waarby hervestigde gemeenskapslede betrokke is, vertragings in die goedkeuring van subsidies aan die kant van die Rundu-dorpsraad, tekorte aan boumateriaal soos sand, asook arbeidsontwrigtings gedurende vakansietye.

Die geraakte huiseienaars wat hul griewe deur ’n komitee opper, sê egter dié verduidelikings weerspieël nie meer die huidige situasie nie. 

“Ons het die verklaring van die maatskappy gesien. Dit is werklik verouderd dat hulle sulke verskonings in hierdie stadium van die projek gee. 

“Ons beweeg in sirkels en dit is dieselfde verklarings wat sy sedert 2021 gee het toe die projek tot stilstand gekom het,” het ’n verteenwoordiger gesê.


INGRYPING VAN OWERHEDE

Die verteenwoordiger wat naamloos wou bly, sê huiseienaars soek nou ingryping van owerhede eerder as verdere verduidelikings van die ontwikkelaar.

“Ons het met die goewerneur, die uitvoerende hoof en die burgemeester gepraat. Ons neem dit nou met die minister [van landelike en stedelike ontwikkeling] op,” het die verteenwoordiger gesê en bygevoeg dat baie gesinne onder ernstige finansiële druk verkeer terwyl hulle steeds huur en huislenings betaal. 

Meer as 80 huishoudings word glo geraak. 

Die komitee het hom ook van onlangse plasings op sosiale media gedistansieer wat met die dispuut verband hou. Amptelike kanale word gevolg, terwyl op ’n reaksie van die ministerie gewag word. 

“Ons is ’n komitee. Wat ons ook al doen, ons tree as ’n komitee op. Tans wag ons vir ’n reaksie. Die projek het heeltemal tot stilstand gekom en ons word in die duister gelaat,” het die verteenwoordiger gesê.

Die Helmsman Group het in reaksie gesê dit bly verbind tot die voltooiing van die projek, maar erken ook die finansiële en emosionele druk op die betrokke huiseienaars. 


VERWERP NALATIGHEID

Die groep het egter bewerings van nalatigheid verwerp en sê konstruksie vorder en sommige huise is reeds voltooi en oorhandig. Volgens die groep is die vrystelling van betalings aan geverifieerde konstruksiemylpale en vorderingsverslae gekoppel.

Helmsman het ook verwys na ontwrigtings wat deur gemeenskapslede veroorsaak is wat na bewering met konstruksiebedrywighede inmeng, materiaaltekorte en tydelike arbeidsontwrigtings.

Huiseienaars hou egter vol die kernkwessie gaan nie meer oor vorige vertragings nie, maar die voortgesette onsekerheid oor tydlyne vir die voltooiing van die projek. 

Vir baie van die gesinne het die voortdurende vertragings tot aansienlike finansiële druk gelei, omdat hulle huislenings sowel as alternatiewe verblyf moet betaal. 

Die dispuut in die voortgesette vertraging in die uiteindelike voltooiing van die projek het nou gelei tot ’n gekoördineerde poging deur geraakte huiseienaars wat vra vir dringende ingryping aan die kant van nasionale en streekowerhede.

Die ontwikkeling is aanvanklik gesien as deel van breër pogings deur die private sektor om Rundu se behuisingstekort te takel. Die voortgesette vertragings in die lewering van behuising het egter verskeie uitdagings aan die lig gebring, waaronder grondgeskille en administratiewe knelpunte.

Huiseienaars sê hulle wil nou konkrete oplossings hê eerder as herhaalde verduidelikings.

“Ons wil nou net op ’n ander rigting fokus. Ons is moeg vir dieselfde verduidelikings,” het die verteenwoordiger gesê.

“Dit is regtig pynlik, verbeel jou jy betaal huur terwyl jy deur die bank vir ’n huis ook betaal,” het hy gesê. 

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-07-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer