Huiskopers van Sunshine Village hande in die hare

Eliot Ipinge

Verskeie huiskopers van die behuisingsontwikkeling, Sunshine Village, in Kaisosi by Rundu, sê hulle betaal sedert Februarie 2022 maandelikse paaiemente vir huise wat steeds onvoltooid is

Dit is byna vyf jaar nadat die koopproses begin het.

Volgens ’n verteenwoordiger van die geraakte kliënte, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het die proses om huise onder die ontwikkeling te bekom, reeds in 2020 begin het. Sommige kopers het kontrakte met die Helmsman Group, besit deur die Chinese sakevrou Stina Wu, in 2021 en Januarie 2022 gefinaliseer, waarna lenings se bankaftrekkings begin het.

Kopers sê hulle het huislenings bekom met die indruk dat hulle volledig voltooide huise koop, gereed om in te trek, eerder as net erwe.

“Wanneer jy ’n huis deur die bank koop, koop jy normaalweg nie ’n erf nie,” het die verteenwoordiger gesê.

“Hier het ons ’n huis gekoop – dit beteken alles, die grond en die gebou volledig klaar.”

Hy het bygevoeg dat, sodra finansiering goedgekeur is, kliënte verwag het om hul sleutels te ontvang en in te trek.

“Wat ’n kliënt verwag, is net die sleutel om die huis oop te sluit en daarin te begin woon,” het hy gesê.

Die bouwerk bly egter onvoltooid, ondanks vroeëre versekering dat die huise teen Junie 2023 klaar sou wees.

Die vertragings het gevolg op ’n grondgeskil tussen inwoners van Kaisosi en die ontwikkelaar, wat na die hoërhof gesleep is.

Die hof het ten gunste van die ontwikkelaar beslis, wat die voortsetting van konstruksiewerk toegelaat het. Kopers sê dit vorder sedertdien stadig.

“Sedert 2023, 2024, 2025 tot nou – as jy na die bouterrein gaan – glo ek nie die huise wat in 2022 gekoop is, behoort op daardie stadium te wees nie,” het die verteenwoordiger gesê.

Kopers sê daar is onlangs aan hulle gesê die huise sou teen April gereed wees, maar hulle bly skepties.

“As ’n mens die situasie op daardie terrein in ag neem, dink ek nie ’n redelike persoon kan glo daardie huise kan in April voltooi word nie,” het hy gesê.


FINANSIëLE DRUK

Die finansiële druk, sê hulle, het ondraaglik geword. Baie betaal steeds huur terwyl hulle verbandlenings vir die huise betaal waarin hulle nie kan intrek nie.

“Finansieel gesproke is ons uitgeput, want die huis word van ons salaris afgetrek, en ons woon nie eens daarin nie. Dis net te veel. Ondraaglik,” het die verteenwoordiger gesê.

Die verteenwoordiger het ook wat hy beskryf as ’n aanbod van ’n platskerm-televisie as vergoeding vir die vertragings, verwerp.

“Ons koop nie ’n huis in ruil vir vergoeding nie. Ons koop ’n huis met die hoop dit sal voltooi word sodat ons daar saam met ons gesinne kan woon,” het hy gesê.

’n Brief gedateer 1 Maart 2025 van Helmsman Group aan geraakte kliënte, wat deur Network Media Hub (NMH) gesien is, bevestig die ontwikkelaar het ’n slim-TV as ’n gebaar van welwillendheid by die finale oorhandiging aangebied.

Die maatskappy het die vertragings erken en kliënte verseker dat huise wat reeds in 2022 geregistreer is, prioriteit kry.


ONVOORSIENE FAKTORE

In reaksie op navrae, het Helmsman Group se woordvoerder, Immanuel Sheefeni gesê die vertragings is veroorsaak deur “’n kombinasie van onvoorsiene en ingewikkelde faktore buite die maatskappy se aanvanklike beheer.”

Hy het gesê ’n groot terugslag het die verskuiwing van individue behels wat dele van die projekgrond voor die ontwikkeling beset het.

“Die verskuiwing het koördinering met die Rundu-dorpsraad vereis en is met weerstand begroet, wat die proses vir tussen twee en drie jaar verleng het,” het Sheefeni gesê.

Hy het verder verwys na “hangende grondsubsidie-goedkeurings,” tekorte aan sand en sleutelboumateriaal in die breë boubedryf, verminderde kapasiteit van kontrakteurs gedurende vakansietye en “tegniese koördineringsvertragings weens uitdagings met werkspermitte waarmee ’n spesialisprojekbestuurder te kampe gehad het”.

Met betrekking tot bekommernisse oor bankaftrekkings het Sheefeni gesê die projek “het aan die vereiste maatstawwe vir nakoming voldoen” toe kopers in 2022 finansiering bekom het.

“Daar was geen bedoeling om kopers aan finansiële druk bloot te stel nie. Die projek is te goeder trou begin op grond van goedkeurings wat destyds beskikbaar was,” het hy gesê.

Die woordvoerder het bygevoeg dat goedkeurings vir finansiering aan onafhanklike bank- en oordragprosesse onderhewig is.

Sheefeni het gesê bouwerk het “weer momentum hervat” en dat die maatskappy werk aan ’n gestruktureerde voltooiingskedule, met huiseienaars wat individueel oor bygewerkte tydlyne betrek word.

“Helmsman Group bly daartoe verbind om die Kaisosi-ontwikkeling te voltooi en gehalte-huise aan die mense van Rundu te lewer.

“Ons waardeer ons kliënte en werk steeds nou saam met alle belanghebbendes om uitstaande sake verantwoordelik en deursigtig op te los,” het hy gesê.


VERTROUE GESKAAD

Ten spyte van hierdie versekering sê geraakte kopers jare se vertragings en verskuiwende tydlyne het hul vertroue ondermyn.

“Ons is moeg. Vyf jaar. Watter soort proses om ’n huis te koop neem vyf jaar?” het die verteenwoordiger gevra.

Kommentaar

Republikein 2026-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer