Windhoek se huurpryse het die hoogte ingeskiet. FOTO TER ILLUSTRASIE/VERSKAF
Windhoek se huurpryse het die hoogte ingeskiet. FOTO TER ILLUSTRASIE/VERSKAF

Huishuurpryse in hoofstad hemelhoog

N$76 mjd. nodig om behuisingstekorte te takel
Windhoek se huurpryse het skerp gestyg tot 'n gemiddeld van N$7 348 vir tweeslaapkamer-eenhede in die afwesigheid van doeltreffende huurregulering.
Elizabeth Kheibes
Windhoek se behuisingstekort, wat tans op 300 000 eenhede staan en N$76 miljard benodig om te takel, dryf huurpryse direk tot onbekostigbare vlakke.

Só het die parlementslid Inna Hengari van die Popular Democratic Movement (PDM) gewaarsku en verder gesê die gemiddelde huur vir ’n tweeslaapkamer-eenheid in die hoofstad in 2024 het tot N$7 348 gestyg, wat ’n toename van 14,7% weerspieël, terwyl inflasie op 5,1% staan.

Kritici glo eiendomsontwikkelaars en verhuurders trek voordeel uit die beperkte beskikbare behuising, terwyl die meerderheid Namibiërs toenemend nie meer ordentlike akkommodasie kan bekostig nie.

Volgens die Nasionale Behuisingsbeleid (2023) verdien slegs 2,8% van huishoudings meer as N$20 000 per maand, ongeveer die inkomste wat nodig is om ’n verband op ’n huis teen markprys ter waarde van N$1,2 miljoen te bekostig.

Met 88% van huishoudings wat in ultra- en lae-inkomstegroepe geklassifiseer word, kan die meeste inwoners nie oorskakel na huiseienaarskap nie en wend hulle eerder tot die huurmark, waar bekostigbaarheid vinnig agteruitgaan.

“Die vraag na huurruimte in Windhoek het ontplof. Eenslaapkamerwoonstelle wat in 2015 teen N$2 500 [per maand] verhuur is, kos nou N$5 000, en ek ontvang meer as 10 oproepe die oomblik as ’n eenheid beskikbaar word," het ’n plaaslike eiendomsontwikkelaar anoniem aan Network Media Hub (NMH) gesê.

Hy het die stygende koste aan breër inflasie en stygende munisipale tariewe toegeskryf.

“Die lewenskoste het gestyg. Verhuurders pas huurgelde aan om munisipale koste te verhaal en ’n opbrengs te verdien. Dis ’n besigheid,” het hy gesê.

Tog het hy die behoefte aan huurbeheer erken, mits verhuurders by die konsultasies ingesluit word.

“Ons moet huurders beskerm teen uitbuiting deur diegene wat swak gehalte behuising teen hoë pryse aanbied, maar die regering moet ’n balans vind sodat verhuurders nie uit besigheid gedryf word nie.”



HUURREGULERING

Die afwesigheid van doeltreffende huurregulering frustreer steeds beide huurders en wetgewers.

Hengari het vandeesweek in die parlement die aandag op die Huurordonnansie 13 van 1977 gevestig, wat voorsiening maak vir huurbeheerrade om geskille te bemiddel en huur te reguleer, maar wat vir meer as drie dekades dormant is.

“Verhuurders eis steeds deposito’s gelykstaande aan een maand se huur, wat nie in rentedraende rekeninge geplaas word nie, wat huurders van hul regmatige finansiële voordeel ontneem,” het sy gesê, met verwysing na artikel 25(2) van die ordonnansie.

Sy het vyf amptelike vrae aan die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa, gestel en duidelikheid geëis oor wanneer huurrade sal herleef, of huurderdeposito's gereguleer sal word, en watter konkrete planne bestaan om die bekostigbaarheidskrisis aan te pak.

Sankwasa het bevestig die huurbeheerraad is steeds in die pyplyn, maar nog nie geïmplementeer is nie, ten spyte daarvan dat dit die eerste keer in 2017 voorgestel is.

Kenners sê die gebrek aan beleggings in bekostigbare openbare behuising, tans onder 0,1 persent van die bruto binnelandse produk (BBP), gekombineer met swak huurderbeskerming, dryf meer Namibiërs na informele behuising.

Tans woon byna 67% van stedelike inwoners in informele toestande, volgens die behuisingsbeleid. Huurgeld vir ’n sinkhuis in ’n informele nedersetting beloop gemiddeld N$900 tot N$1 200 per maand.

“Dis nie net ’n behuisingskwessie nie. Dis ’n kwessie van billikheid, waardigheid en langtermyn- stedelike stabiliteit,” het Hengari afgesluit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer