Hoofstad benodig 6 450 huise per jaar
Windhoek moet jaarliks meer as 6 000 gedienste erwe en huise lewer om ’n betekenisvolle verskil in sy groeiende agterstand in die verskaffing van behuising te maak, maan die stadsvaders.
Volgens Stad Windhoek (CoW) skiet die huidige leweringsvlakke ver te kort aan wat vereis word.
Die munisipaliteit sê teen die huidige tempo van die lewering van ongeveer 1 000 erwe of huise per jaar in die kategorie minder as N$800 000, kan dit tot 64 jaar duur om die bestaande agterstand uit te wis.
CoW se woordvoerder, Theunis Heunis, het gesê die omvang van die uitdaging vereis ’n merkbare versnelling in die lewering van dienste deur alle rolspelers.
“Om doeltreffend ’n maatskaplike impak in die informele behuisingsektor te maak, vereis dit ’n beduidende toename in die lewering van behuising, met ten minste 6 450 erwe en huise per jaar wat nodig is om die agterstand te halveer,” het hy gesê.
Heunis het bygevoeg die behuisingskrisis word deur vinnige verstedeliking, bevolkingsgroei en beperkte toegang tot gedienste grond gedryf.
“Die groeikoers vir informele nedersettings in die hoofstad word tans op 6,4% per jaar geraam.
“Dit terwyl die beskikbaarheid van gedienste grond en toegang tot bekostigbare behuising ’n voortgesette maatskaplike uitdaging bly,” het hy gesê.
AGTERSTAND STYG
Data van CoW toon die totale agterstand in behuising oor inkomstegroepe sal na verwagting van 57 910 in 2019 tot 72 185 teen 202 toeneem – ’n styging van byna 25%.
Die grootste druk bly in die lae-inkomstegroepe, met die vraag in die kategorie N$0 tot N$100 000 wat na verwagting tot 38 700 eenhede sal groei, terwyl die kategorie N$100 000 tot N$400 000 na verwagting 25 800 eenhede sal bereik.
Heunis het gesê dit weerspieël ’n groeiende gaping in bekostigbaarheid, veral onder lae- en laer-middelinkomste-huishoudings.
“Die vraag na grond word teen 2026 op 2 857 hektaar geskat, wat die omvang van stedelike uitbreiding en die dringendheid beklemtoon om die lewering van nutsdienste en die nodige infrastruktuur (land servicing) te versnel,” het hy gesê.
DRUK OP STEDELIKE GROEI
Windhoek se bevolking het van net meer as 325 000 in 2011 tot meer as 486 000 in 2023 toegeneem, met vooruitskattings wat aandui dat dit teen 2026 ’n totaal van 537 000 kan oorskry.
Hierdie vinnige groei word landswyd weerspieël, met Namibië se stedelike bevolking wat van 43% in 2011 tot 50% in 2023 gestyg het.
Heunis het gesê die tempo van verstedeliking plaas steeds druk op infrastruktuur, die verskaffing van behuising en munisipale hulpbronne.
“Die bevolkingsgroei in die hoofstad lei tot ’n groeiende vraag na gedienste grond, behuising en basiese dienste, wat druk op die munisipaliteit se beplannings- en leweringskapasiteit plaas,” het hy gesê.
KOSTE VAN UITBREIDING
CoW beraam dat die lewering van nutsdienste en die nodige infrastruktuur alleen ongeveer N$912 miljoen per jaar sal kos om tred met die bevolkingsgroei te hou, wat op huidige vooruitskattings gebaseer is.
Die koste van die lewering van gedienste grond om aan die vraag te voldoen, sal na verwagting teen 2026 altesaam N$9,1 miljard oorskry, selfs met slegs ’n gedeeltelike dekking van koste.
Heunis het beklemtoon om die behuisingskrisis te takel sal voortgesette finansiële beleggings en gekoördineerde pogings vereis.
“Om die agterstand deur middel van veelvuldige benaderings aan te pak, is ’n beraamde N$1 miljard per jaar nodig, wat deur vennootskappe en innoverende leweringsmodelle ondersteun word,” het hy gesê.
In reaksie hierop het CoW ’n vyfjaarplan (2026-’30) uiteengesit wat ten doel het om 2 830 gedienste erwe en 3 470 wooneenhede in gebiede soos Cimbebasia, Otjomuise, Havana, Goreangab en Rocky Crest te lewer.
Bykomende inisiatiewe sluit in ’n behuisingsprojek van 800 eenhede wat op jong professionele persone en studente gemik is, sowel as gesamentlike ondernemings met rolspelers soos Ongos, die Shack Dwellers Federation of Namibia (SDFN) en die Development Workshop Namibia (DWN).
Heunis het gesê samewerking met die private sektor en gemeenskapsorganisasies sal van kritieke belang wees om die lewering van behuising te versnel.
“Gesamentlike ondernemings, publieke-private-vennootskappe en gemeenskapsgedrewe programme vorm deel van die munisipaliteit se breër strategie om die voorsiening van behuising te verhoog, veral in informele nedersettings en lae-inkomstegebiede," het hy gesê.
DRINGENDHEID NEEM TOE
Ten spyte van dié planne erken amptenare dat sonder ’n beduidende toename in die leweringsyfer en befondsing, die agterstand in behuising sal aanhou groei.
Heunis het gewaarsku om nie die huidige teikens te wysig nie, daartoe kan lei dat duisende huishoudings sonder toegang tot formele behuising sal bly.
Die huidige koers dui daarop dat, indien dit nie aangepas word nie, behuisingsteikens nie behaal sal word nie, wat die uitdagings wat met die groei van informele nedersettings verband hou, verder sal vererger,” het hy gesê. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie