Die lewe in skuilings van plastiek
Aurelia Afrikaner
Gesinne in Okahandja se informele nedersetting Ekunde 6 maak kinders groot in skuilings van plastiek en skrootafval, waar oorstromings, brande, honger en blootstelling aan gevaarlike afval deel van hul daaglikse lewe in erge armoede is.
Die huise hier is nie soseer gebou nie, maar as eerder aanmekaar gesit uit plastiekseile wat oor materiaal gespan is wat uit die stowwerige omgewing gered is.
Hulle staan dig teen mekaar op kaal grond naby ’n rivierloop, waar ’n brose gemeenskap met min aan hoop en oorlewingsinstink vasklou.
Tydens ’n onlangse besoek het Network Media Hub (NMH) met die 43-jarige Tania Kloefas gepraat.
In ’n deuropening wat met plastiek en hout aanmekaar gelap is, het haar kêrel in ’n kampstoel gesit en aan koffie geteug terwyl ’n radio in die agtergrond gespeel het.
Rondom hulle was die erf besaai met plastiekbottels wat vir herverkoop en herwinning bymekaar gemaak is.
Kloefas se twee kinders, ’n 15-jarige seun en sy tienjarige sussie, het kos en ander items uitgepak wat by die plaaslike vullisterrein vir die dag se maaltye opgetel is.
“Dit is eintlik ons daaglikse kos,” het Kloefas gesê en verwys na die weggegooide goed wat haar kinders van die vullisterrein af terugbring.
Haar opmerking met ’n skalkse laggie, het die hardheid van hul daaglikse realiteit verbloem.
SKOOL
Toe daar oor skool gevra is, het Kloefas gesê haar seun het uitgesak.
“Ek weet regtig nie hoekom hy weg is nie, maar hy het weggegaan omdat hy dalk moeg was,” het sy gesê.
Haar dogter woon egter nog klasse by.
“Die kinders gaan na die vullisterrein om ons daaglikse kos te soek, want dis waarvan ons ongelukkig leef,” het sy gesê.
Kloefas self het nooit skool bygewoon nie en kan nie skryf nie, nie eens haar eie naam nie.
Haar vooruitsigte om werk te kry – reeds beperk – is verder bemoeilik deur ’n operasie wat sy jare gelede ondergaan het.
“Ek weet nie eens watter operasie dit was nie,” het sy erken.
VOORTDURENDE VREES
Om langs die rivier in Ekunde 6 te woon, bring sy eie risiko’s. Wanneer swaar reën kom, stroom water by huise in en spoel besittings weg. Tydens die mees onlangse oorstroming, het Kloefas gesê, is komberse en klere verloor.
“Die reën vat alles,” het sy gesê.
Die gesin het geen stabiele inkomste nie en Kloefas het gesê sy ontvang nie maatskaplike toelae-ondersteuning vir haar kinders nie.
Tydens NMH se besoek is ’n jong meisie gesien wat gedrink het aan wat soos vervalde medikasie gelyk het wat van die vullisterrein af opgetel is. Daar naby het spuitkannetjies en weggegooide huishoudelike items gelê.
Al is sommige van die gesin se opmerkings in ’n ligte toon gemaak, het die situasie ontstellende gesondheids- en veiligheidskwessies vir kinders en volwassenes uitgelig wat in toestande van uiterste ontbering leef.
Kloefas het gesê die Okahandja-raadslid se kantoor het vroeër aan haar agt sinkplate en vyf pale gegee, maar die materiaal was nie genoeg om ’n behoorlike skuiling te bou nie.
Sy het ook beskryf hoe sy uit ’n voedselbystandsprogram gesny is, na bewering sonder verduideliking.
“Ek het kosbystand gekry, maar toe ek teruggaan, was my naam nie meer op die lys nie. Hulle kon nie verduidelik hoekom nie,” het sy gesê.
“Ek is so moeg vir daardie raadslid se kantoor, dis ’n aanhoudende bakleiery sonder ’n oplossing.”
Ivonne Ludik (26), hoogswanger en ma van ’n vyfjarige seuntjie sonder ’n pa, het soortgelyke frustrasies uitgespreek.
Ludik het gesê haar seun het geen geboortesertifikaat nie nadat die oorspronklike dokument in ’n plakkershut tydens ’n brand vernietig is.
Sonder geld om dit te vervang, kan sy nie vir ’n maatskaplike toelae aansoek doen nie.
“Dit is ’n stryd. Ek probeer, maar sonder geluk,” het sy gesê.
Sy het ook die raadslid se kantoor gekritiseer.
“Party dae help hulle, maar daardie hulp is van geen nut nie,” het Ludik gesê.
NMH het meer as vier huise in die gebied getel wat hoofsaaklik uit plastiekseile en weggegooide boumateriaal opgerig is.
Inwoners het beskryf hoe hulle onder die voortdurende bedreiging van rampe leef, insluitend oorstromings of veld- of plakkershutbrande – gevare wat vinnig deur die strukture wat na aan mekaar opgerig is, kan versprei.
Terwyl die middagson op Ekunde 6 fel gebrand het, het die kinders en tieners die kookvure versorg en deur die rommel gesorteer wat van die vullisterrein af gebring is.
Kloefas se seun het sy ma gehelp om ’n maaltyd voor te berei uit kos wat vroeër bymekaar gemaak is, terwyl sy sussie tussen die dag se optelgoed gespeel het – albei klaarblyklik onaangeraak deur die swaarkry rondom hulle.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie