FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

‘Belange van burgerlugvaartlede beskerm’

Henriette Lamprecht
Frank Steffen – ’n Kompromie is bereik tussen die Vliegtuigeienaars- en Vlieëniersvereniging (AOPA) en die Namibië Burgerlugvaartowerheid (NCAA) oor die voorgenome implementering van nuwe konsepregulasies deur die NCAA vir die nagenoeg 860 vliegvelde en landingstroke in die land.

Die nuwe voorstel het reeds die groen lig van die minister van openbare werke en vervoer, John Mutorwa, gekry.

Die NCAA het op 8 November 2018 die gewysigde Deel 139 van die Namibië Burgerlugvaartregulasies (Namcars) in die Staatskoerant gepubliseer.

Dit sou aanvanklik op 1 Januarie 2019 in werking getree het, maar ná verskeie uitstelle is 1 Oktober 2022 as D-dag bepaal. Dit is egter weer tot 31 Maart 2023 uitgestel, nadat die lugvaartbedryf onder leiding van AOPA en rolspelers in Namibië se toerismebedryf, Mutorwa genader het met ’n versoek om die voorgestelde regulasies nie te implementeer nie, omdat dit “uiters negatiewe en selfs katastrofiese gevolge” op dié belangrike ekonomiese bedrywe sal hê.

AOPA se president, Riaan Burger, het by wyse van ’n mediaverklaring gesê die vereniging glo met die promulgering van die Staatskoerant 8056 op 31 Maart 2023 ’n belangrike stap in die regte rigting geneem is om lughawens te klassifiseer soos gespesifiseer in aanhangsel 139 (Namcar Deel 139 van die vorige Staatskoerant 6763 van November 2018), “in veral vir kategorie D-vliegvelde waar die belange van ons burgerlugvaartlede beskerm bly”.

Volgens Burger is die vliegveldkategorieë vereenvoudig en sal daar in die toekoms die volgende wees: Kategorie A – gesertifiseerde internasionale/binnelandse vliegvelde; Kategorie B – gelisensieerde internasionale/binnelandse vliegvelde; Kategorie C – gelisensieerde binnelandse vliegvelde; en laastens Kategorie D – ongelisensieerde binnelandse vliegvelde. Die regulasies sal onmiddellik van toepassing wees, met die uitsondering van onderafdeling 5, waarvoor ’n 18 maande tydperk sal geld.

“Kategorie D sluit enige ander vliegvelde in, insluitend private en vliegvelde in staatbesit, wat beskikbaar is vir beide geskeduleerde en niegeskeduleerde binnelandse bedrywighede,” lui die nuwe regulasie. In die toekoms sal Kategorie D-lughawens slegs by die NCAA geregistreer hoef te word en word geen amptelike registrasieproses vereis nie.

Die NCAA het vroeër gesê die doel van die omstrede regulasies is om alle lughawens en vliegvelde in ooreenstemming met regulasies van die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie (ICAO) te registreer.

Dit het onder meer bepaal kommersiële vlugte waarmee toeriste na lodges in afgeleë gebiede vervoer word, mag nie by Kategorie E-vliegvelde land nie, terwyl dieselfde vir mediese noodvlugte geld.

Die regulasies raak sowat 860 vliegvelde en private landingstroke landswyd, waarvan minstens 96 gereeld deur die plaaslike lugvaartbedryf benut word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer