Andreas, Kasuto laat vaar Lüderitz-olieprojek

Vrae bly hang oor belange in konsortium
Die twee sakemanne het bevestig hulle onttrek van Namport se nuwe tenderproses.
Sonja Smith

Namibiese sakemanne Josef Andreas en Jason Kasuto stap weg van die voorgestelde olie- en gasvoorraadbasisprojek van N$4 miljard op Lüderitz en gaan nie aan die Namibiese Haweowerheid (Namport) se hernude soektog na ’n private ontwikkelaar deelneem nie.

Andreas, wat vroeër aangedui het dat hy steeds belangstel om te belê indien ’n ander geleentheid beskikbaar sou word, het Maandag aan Republikein gesê hy het sy standpunt verander en jaag nie meer die projek na nie.

Hy het ook bewerings van die hand gewys dat hy Chinese beleggers gemobiliseer het om aan die nuwe tenderproses deel te neem.

In ’n afsonderlike onderhoud het Kasuto aan Republikein gesê hy het reeds etlike maande gelede uit die inisiatief bedank en geen gesprekke gevoer oor deelname aan Namport se nuwe versoek om voorstelle nie.

“Ek het geen belangstelling in die projek nie en het daarom geen gesprekke oor die projek en sy besonderhede gevoer nie. Nie ek of enige entiteit waarvan ek bewus is, gaan aan enige versoek om voorstelle deelneem nie,” het Kasuto gesê.

“My bedanking het etlike maande gelede plaasgevind om op gebiede te fokus wat meer met my doel strook. Hierdie is nie een daarvan nie.”

Namport het die projek weer vir mededinging oopgestel nadat dit ’n voorstel van Alpha Nautical Offshore Logistics Namibia (ANOL) verwerp het, met die argument dat die konsortium nie daarin geslaag het om die finansiële, tegniese en operasionele kapasiteit te toon wat nodig is om die fasiliteit te ontwikkel en te bestuur nie.

Die haweowerheid het op 12 Augustus nuwe belangstellendes uitgenooi vir ’n private ontwikkelaar om die voorraadbasis te ontwerp, bou, besit, bedryf en uiteindelik oor te dra, onder ’n konsessie van tot 25 jaar.

Die bevestigde onttrekkings van Andreas en Kasuto kom te midde van teenstrydige aansprake oor Andreas se verhouding met ANOL en die eienaarskap van die konsortium wat die oorspronklike voorstel nagestreef het.

Dokumente wat Republikein vroeër nagegaan het, het aangedui dat Andreas se Tulaing Financial Services en Heritage Oasis Group Investment, wat met Kasuto geassosieer word, gesamentlik die voorgestelde Namibiese belang van 51% in ANOL verteenwoordig het.

Alpha Offshore Solutions Limited, gekoppel aan die Ghanese sakeman Jory Adu-Boahene, het na bewering die oorblywende 49% besit.

Andreas het vroeër beweer dat Tulaing 25,5% van ANOL besit het en dat ’n aandeelhouersbesluit hom as direkteur aangestel het. Later het hy gesê sy voorgestelde belegging is nie afgehandel nie, omdat die partye nie kon saamstem oor die persentasie aandele wat aan hom aangebied is en oor sy direkteurskap nie.

Hy het nou ANOL se bewering verwerp dat die maatskappy geen verhouding met hom gehad het nie en gesê hy beskik oor ’n aandeelsertifikaat wat deur Kasuto onderteken is. 

Die regsgevolg van daardie sertifikaat en of die voorgestelde aandeletransaksie afgehandel is, kon nie onafhanklik vasgestel word nie.

“Ek het ’n aandeelseritfikaat wat deur Jason Kasuto onderteken is. Ek was besig om aandele te verkry in Jason se maatskappy genaamd Heritage Investment. Heritage het op sy beurt [aandele van] 51% in ANOL Namibia,” het Andreas aan Republikein gesê.

“Ek sal met jou ’n aandeelserifikaat deel wat deur Jason onderteken is, wat ’n direkteur in ANOL is, en sy maatskappy het 51% van ANOL deur Heritage. Ek het 25,5% in Heritage,” het hy bygevoeg.

Die jongste bewering dat Andreas aandele van 25,5% van Heritage besit het, verskil van vroeëre dokumente waarin hy beweer het dat Tulaing direk aandele van 25,5% van ANOL besit het.

Adu-Boahene het egter volgehou dat ANOL geen verhouding met Andreas gehad het nie en het sy verbasing uitgespreek oor voorstelle dat sy deelname aan die projek aan hom gekoppel was.

“Ons het geen verhouding met mnr. Andreas nie en ons is verward oor enige aanname dat ANOL se betrokkenheid met hom of met enige afsonderlike aandeelhouer- of politieke dispuut verbind was,” het Adu-Boahene gesê.

“Ons het die proses as kommersiële deelnemers betree en geglo dat ons met ’n gewone infrastruktuur- en beleggingsgeleentheid te doen het wat deur die behoorlike kanale bevorder is.”


REKORD

In ’n brief gedateer 13 Mei het Namport die regering ingelig dat ANOL nie daarin geslaag het om voldoende finansiële kapasiteit, tegniese kundigheid, leweringsvermoë of operasionele ervaring te toon nie.

Die owerheid het ook bevind dat ANOL geen verifieerbare rekord het van die besit of bedryf van ’n olie- en gas-voorraadbasis nie.

Namport het ook Robert Harbour as die voorgestelde terrein verwerp en verwys na sy diepte van 8,75 meter, harde rotsagtige seebodem en onversoenbaarheid met die hawe-meesterplan.

ANOL het die beoordeling betwis en aangevoer dat die projek baggerwerk insluit om ’n operasionele diepte van tussen 9,5 en 10 meter te bereik.

Op 4 November 2025 het die kabinet Namport en die die agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) gemagtig om gesamentlik ’n geïntegreerde olie- en gas-voorraadbasis in Lüderitz te ontwikkel en ’n private ontwikkelingsvennoot te vind.

Die beplande fasiliteit is bedoel om Lüderitz se kapasiteit uit te brei om logistiek, berging en ander ondersteuningsdienste aan Namibië se ontluikende buitelandse olie- en gasbedryf te lewer.


GELD OP DIE SPEL

Andreas het gesê ANOL Namibia het geen bates nie, maar is vir ’n spesiale doel gestig waardeur die vennote beoog het om die konsessie te bekom en te implementeer.

“Sou die konsessie(s) bekom word, sou elke vennoot bydra tot die bou van die hawe en dit sou die finale aandeelhouding bepaal het,” het Andreas gesê.

Hy het volgehou dat geen deelnemer bedoel was om gratis belange te ontvang nie en gesê Tulaing se balansstaat sou sy deel van die projek se laste kon dra.

Dokumente wat Republikein vroeër nagegaan het, dui aan dat Tulaing beweer het dat dit nie-bindende, aanduidende termynstate van drie Namibiese finansiële instellings verkry het wat die projek se kapitaalbehoeftes dek. Dit was finansieringsaanwysings eerder as toegewyde lenings en die instellings is nie geïdentifiseer nie.

ANOL gesê die projek sou 70% deur skuld en 30% deur ekwiteit gefinansier word, met Afreximbank en die Fund for Export Development in Africa as voornemende finansierders geïdentifiseer. Enige uitbetaling sou daarvan afgehang het dat die konsortium eers ’n konsessie-ooreenkoms bekom.

Andreas het gesê hy het ’n “ontelbare” bedrag bestee om die projek na te jaag en volgehou dat hy bewys van sy uitgawes het.

“Almal, insluitend ekself, het geld aan hierdie projek bestee en ek het bewys hiervan,” het hy gesê.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer