Amushelelo-landgoed nie goedgekeur

CoW ontvang geen aansoek
Harvey Boulter en en sy vennoot het bevestig hulle is steeds besig met gesprekke met die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling vir die behuisingsprojek naby die Hosea Kutako Internasionale Lughawe.
Tuyeimo Haufiku

Stad Windhoek (CoW) het hom van die voorgestelde Amushelelo Hosea Kutako Lughawe-landgoed gedistansieer en sê die enorme behuisingsprojek is nie by die munisipaliteit vir goedkeuring ingedien nie. 

CoW se woordvoerder, Lydia Amutenya, sê geen aansoek vir die stigting van die nedersetting, onderverdeling, hersonering of ontwikkelingsgoedkeuring is vir die projek ontvang nie, al word dit reeds aan voornemende kopers bemark. 

“Die stad is bewus van berigte oor die voorgestelde ontwikkeling. Daar is egter geen formele aansoek wat by Stad Windhoek ingedien is nie,” het Amutenya in reaksie op vrae van Republikein geantwoord. 

Die voorgestelde landgoed wat verlede maand deur Britse sakeman, Harvey Boulter, aktivis, Michael Amushelelo, en prokureur, Kadhila Amoomo, bekendgestel is, word as ’n ontwikkeling van 10 528 erwe op Gedeelte 124 van Plaas Ondekaremba Nr. 78 langs die pad na die Hosea Kutako Internasionale Lughawe (HKIA) bemark. 

Openbare inligting oor die projek sê voornemende kopers kan ’n voorkeurposisie verseker deur ’n voorkeur-ooreenkoms aan te gaan en maandelikse bydraes te maak. 

CoW het egter gewaarsku dat sulke private reëlings nie op munisipale goedkeuring neerkom nie. 

“Die betaling van ’n besprekingsfooi, insluiting op ’n waglys of voorkeurlys, of enige soortgelyke reëling wat met ’n private party aangegaan word, vorm nie goedkeuring deur Stad Windhoek nie en verleen geen beplannings- of ontwikkelingsregte nie,” het Amutenya gemaan. 

Sy het ook bevestig daar is geen ooreenkoms met die ontwikkelaars om water, riool, paaie, elektrisiteit, afvalbestuur of ander munisipale dienste aan die voorgestelde landgoed te lewer nie. 

Amutenya het gesê die toedeling van verantwoordelikhede oor infrastruktuur en koste kan eers bepaal word sodra ’n formele aansoek ingedien en beoordeel is. 

Dit beteken daar is tans geen munisipale verbintenis om toekomstige inwoners van die voorgestelde landgoed aan die munisipaliteit se water-, riool- of elektrisiteitsnetwerke te koppel nie. 

Sy het gesê private infrastruktuur sal ook deur die toepaslike goedkeuringsprosesse moet gaan, insluitend ooreenkomste oor ontwikkeling, goedgekeurde ingenieursontwerpe en tegniese toesig waar van toepassing. 

Die woordvoerder het gesê geen voorstel vir die beoordeling van afvalwater is ingedien nie. 

“Enige voorgestelde ontwikkeling van hierdie aard en skaal sal moet aandui dat daar ’n gepaste, tegnies uitvoerbare, omgewingsaanvaarbare en volhoubare afvalwater-oplossing is voordat dit ondersteun kan word,” het sy gesê. 

“Die afvalwatervereistes sal deur die toepaslike beplannings-, omgewings- en ingenieursbeoordelingsprosesse bepaal word, met inagneming van faktore soos ondermeer die omgewingstoestande, openbare gesondheidsoorwegings, beskikbaarheid van infrastruktuur en langtermyn-volhoubaarheid.”  


KOPERS GEWAARSKU 

Amutenya het lede van die publiek aangeraai om die beplannings- en goedkeuringstatus van voorgestelde ontwikkelings te verifieer voordat hulle betalings maak. 

Sy het gesê bewerings dat grond in die toekoms ontwikkel kan word, moet nie as bevestiging geïnterpreteer word dat die vereiste beplannings-, omgewings-, ingenieurs- of munisipale goedkeurings verkry is nie – of dat dit noodwendig toegestaan sal word nie. 

Die woordvoerder beklemtoon dat, indien die ontwikkelaars uiteindelik ’n formele aansoek indien, dit beoordeel sal word ooreenkomstig die wet op stedelike en streekbeplanning van 2018, die toepaslike soneringskema en ander relevante regs- en munisipale vereistes. 


VENNOTE REAGEER

In gesprek met Republikein gister het beide Boulter en Amushelelo bevestig dat hulle nog nie ’n aansoek by die munisipaliteit ingedien het nie. Hulle het gesê hulle is steeds besig met gesprekke met die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling en sodra dit afgehandel is, sal hulle CoW nader. 

Gevra waarvoor die potensiële inwoners betaal, het Boulter gesê: “Die geld word in ons prokureur se rekening inbetaal. As die projek nie goedgekeur word nie, sal die geld aan die individue terugbetaal word.” 

Amushelelo het gesê dit word duidelik op hul webwerf gestel dat ’n mens “’n grootte-kategorie bespreek, nie ’n spesifieke erf nie”. 

Hy het gesê dit is vrywillig en slegs vir dié wat ’n plek in die ry wil verseker. Hy het bygevoeg dat dié wat aansoek gedoen het, bewus is van die voorwaardes en “daar is geen verborge klousule nie”. 

Hy het ook bevestig die geld sal in die Kadhila Amoomo Trust inbetaal word en aan kliënte terugbetaal sal word indien die projek nie goedgekeur word nie. 

Amushelelo het gesê hy betwyfel dat Amoomo kliënte sou “kul of die geld sou opeet”, aangesien dit sou beteken hy verloor sy prokureurslisensie. 

Die aktivis het gesê hulle is optimisties en sou self die water, riool, elektrisiteit en ander dienste finansier aangesien dit ’n private projek is en bygevoeg dit is waarom hy in vennootskap met die miljardêr Boulter is. 

Amushelelo het ook die stad gewaarsku om nie die aansoek om enige politieke redes te verwerp nie en gedreig om plakkershutte aan die oostekant van Windhoek op te rig indien hul aansoek nie goedgekeur word nie. 

“As hulle dit nie om politieke redes goedkeur nie, sal ek plakkershutte aan die oostekant oprig. Dit belowe ek hulle. Dit is ’n geleentheid vir hulle om 10 500 huise te lewer,” het hy gemaan.

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-09-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer