Ambisieuse projek gehalt oor belegger se rekord
’n Ambisieuse plan deur die regering en ’n Londense maatskappy om ’n reuse-projek in Windhoek te ontwikkel, het na bewering ’n struikelblok getref nadat kommer oor die belegger se rekord geopper is.
Dokumente wat deur Network Media Hub (NMH) verkry is, identifiseer die belegger as Pantum Groups Ltd – ’n Britse geregistreerde maatskappy onder leiding van ’n bekende in sokkerkringe, Festus Mansaray, oorspronklik van Sierra Leone om die projek onder die naam Pantum Namibia Plaza te ontwikkel.
Die projek behels ’n nasionale konferensiesentrum vir 5 000 afgevaardigdes, ’n vyfsterhotel met 300 kamers, 100 luukse woonstelle en 36 luukse villas saam met kantore, winkels, restaurante, ’n casino, ’n klub vir privaat lede en spa- en gimnasiumgeriewe.
’n Tweede fase sluit ’n sokkerstadion met 30 000 tot 40 000 sitplekke, sokkervelde, ’n Afrika-sokkermuseum en sokkerakademie in.
Die voorsitter van die beleggingskomitee van agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida), Thaddeus Maswahu, het aan NMH bevestig dat die voorstel weens die belegger se rekord van die hand gewys is.
“Dit is waar dat die voorstel op grond van die afwesigheid van ’n rekord verwerp is. Dit het iewers vroeg vanjaar gebeur,” het Maswahu gesê.
Hy het gesê die eienaars van die maatskappy het ’n geleentheid gesoek om hul voorlegging voor te lê, maar Nida se raad het aangedui dat dit eers deur die beleggingskomitee vir ondersoek onderwerp moet word.
“Die eienaars van die maatskappy wou kom en ’n voorlegging doen ná die indiening van die voorstel, maar die raad het gesê dit moet eers deur die beleggingskomitee gaan,” het hy gesê.
Maswahu het gesê een van die komitee se groot bekommernisse was of Pantum ervaring kan toon om vergelykbare projekte te lewer.
“Van ons kommer was: Wys vir ons soortgelyke projekte wat julle gedoen het. Daarom moes ons behoorlike ondersoek doen en al hierdie dinge deurgaan voordat ons kan instem,” het hy gesê.
Die projek het ’n terugslag beleef onder die voormalige waarnemende uitvoerende hoof van Nida, Richwell Lukonga, wat Mansaray in ’n brief gedateer 7 Mei 2025 ingelig het dat Nida sy voorstel heroorweeg het.
Lukonga het destyds gesê Nida het besluit om “terug na die tekenbord” te gaan en die proses “van nuuts af” te begin.
“Nida beoog nie om voort te gaan met die besigheidsbetrokkenheid en/of verhouding met die F&A Group Investments oor die Pantum Namibia Plaza-projek wat die ontwikkeling van ’n internasionale konferensiesentrum betref nie,” het Lukonga geskryf.
Dokumente wat NMH gesien het, dui egter daarop dat Nida se huidige waarnemende uitvoerende hoof, Phillip Namundjebo, persoonlik Nida se bereidwilligheid gekommunikeer het om saam met Pantum aan die voorgestelde ontwikkeling te werk.
In ’n brief gedateer 13 November 2025 aan Mansaray, het Namundjebo Nida verbind tot die voortsetting van gesprekke met die maatskappy onder ’n model van ’n gesamentlike onderneming (JV) om “saam te werk om die ontwikkeling van ’n nasionale konferensiesentrum en ’n nasionale sokkerstadion in Windhoek te verwesenlik”.
Die brief het verder bevestig dat die onderneming in staatsbesit grond vir die projek beskikbaar het.
“Nida het wel die vereiste grond vir die ontwikkeling; die bepalings en voorwaardes waarop die grond aan die JV beskikbaar gestel sal word, sal bespreek en ooreengekom moet word,” het Namundjebo geskryf.
Hy het Pantum toe genooi om ’n ooreenkoms voor te berei wat die voorgestelde samewerking verder sou neem.
“Verskaf asseblief aan Nida ’n konsep-memorandum van verstandhouding [MoU] rakende hierdie opwindende onderneming,” het hy geskryf.
Die brief identifiseer nie die grond wat vir die ontwikkeling geoormerk is nie, ook nie die grootte of waarde daarvan nie.
Pantum se voorstel beskryf die ontwikkeling as ’n geïntegreerde hotel, konferensiesentrum en sokkerontwikkelingkompleks en sê minstens 20 akker grond in Windhoek is nodig.
Die eerste fase sou die vyfsterhotel en konferensiesentrum insluit, saam met residensiële, kommersiële en vermaakgeriewe.
“Die hotel sal geposisioneer word as ’n vyfster-hotel en ontspanningsoord,” lui Pantum se voorstel.
Die maatskappy sê grond sal eers verseker moet word voordat gedetailleerde haalbaarheidswerk kan voortgaan. Nida sou ’n ekwiteitsvennoot in dele van die ontwikkeling word eerder as om bloot grond te verskaf.
Vir die konferensiesentrum-maatskappy sou Pantum en ander beleggers 51% beheer, terwyl Nida 49% sou hê.
Ander besighede sou anders gestruktureer word, met Nida wat moontlik tussen 0% en 24% sou beheer, terwyl sommige bedryfsmaatskappye geheel en al in private hande sou bly.
Pantum het voorgestel om ’n kommersiële huurkontrak met Nida vir die projekgrond aan te gaan en dat die staatsgrond nie bloot aan die ontwikkelaar oorhandig sou word nie.
“Die grond sal nie as ’n gratis geskenk ontvang word nie. Pantum sal aan Nida die kommersiële waarde van die grond as huur betaal,” lui die voorstel.
Pantum stel verder voor om die ontwikkeling deur die finansieringstrukture van die projek te finansier, sonder dat die Namibiese regering die belegging hoef te waarborg.
Volgens Pantrum sou die ontwikkeling buite die regering se balansstaat bly en “geen regeringsteun of soewereine waarborg” vereis nie.
Pantum se voorstel verbind drie groot internasionale handelsmerke – die Indiese konstruksie- en ingenieurskonglomeraat in Mumbai, Shapoorji Pallonji, as die voorgestelde ontwerp- en boukontrakteur, Marriott as hoteloperateur en Manchester City Football Club as vennoot-sokkerklub.
Pantum beskryf die maatskappy as “besit deur Afrikane in Afrika en die diaspora.”
Sy voorstel bied ’n ervare bestuurspan met Mansaray as besturende direkteur, Keith Aki-Sawyerr as ontwikkelingsdirekteur en die voormalige Kameroense professionele sokkerspeler, Eyong Enoh, as sportdirekteur.
Maatskappyrekords toon egter dat Aki-Sawyerr en Enoh sedert Januarie 2026 saam met Jefferson Ocran nie meer direkteure van Pantum was nie. Hul vertrekke het maande gekom nadat Nida sy bereidwilligheid uitgespreek het om met Pantum oor die Namibië-projek saam te werk.
Dit is vir NMH onduidelik of die trio steeds by Pantum, of die voorgestelde projek, in ’n ander hoedanigheid betrokke bly.
Die maatskappy skryf sy ervaring toe aan eiendom, korporatiewe finansies, ingenieurswese en belegging. Konferensiesentrums, stadions of geïntegreerde ontwikkeling van vergelykbare skaal wat voorheen voltooi is, word nie genoem nie – ’n leemte wat na bewering deur Nida se beleggingskomitee as ’n bron van kommer uitgelig is.
Namundjebo het vandeesweek die beleggingskomitee se optrede beskryf as ’n versoek vir verdere inligting eerder as ’n verwerping.
“Die Pantum-voorstel is aan Nida se standaard beleggingsbestuursprosedures onderwerp, wat ’n veelvlakkige proses van omsigtigheid insluit. Tydens die beleggingskomitee se oorweging van die voorstel het die komitee meer inligting versoek,” het hy gesê.
Namundjebo het gesê Nida wil hê voornemende vennote moet “tegniese kapasiteit, finansiële vermoë en ’n verifieerbare geskiedenis van die lewering van projekte van vergelykbare skaal” kan aandui.
Hy het ook verduidelik dat sy brief van 13 November 2025 aan Pantum uitgereik is voordat die beleggingskomitee sy beoordeling voltooi het en nie op goedkeuring van die projek neergekom het nie.
“Die brief wat op 13 November 2025 uitgereik is, was deel van vroeë verkennende betrokkenheid en het nie projekgoedkeuring uitgemaak nie. Ten tyde van die uitreiking van die brief is geen goedkeuring deur die beleggingskomitee of raad toegestaan nie,” het Namundjebo gesê.
Hy het gesê die voorgestelde konferensiesentrum bly ’n regeringsprioriteit.
“Die regering van Namibië het die vestiging van ’n nasionale konferensiesentrum as ’n strategiese nasionale prioriteit openbaar bekragtig.
“Verder het die ministerie van myne, energie en nywerheidsontwikkleing in ’n brief gedateer 20 Julie 2026 die regering se verbintenis tot die projek herbevestig,” het hy gesê.
Die minister van myne, energie en nywerheidsontwikkeling, Modestus Amutse, kon nie vir kommentaar bereik word nie aangesien hy in die buiteland is.
Volgens Namundjebo word verwag dat die projek 4 500 werksgeleenthede in die konstruksiebedryf en 2 300 permanente poste sal skep, terwyl dit Namibië se ambisie sal versterk om ’n streeksentrum vir sporttoerisme te word.
“Maar geen MoU is onderteken nie. Geen gesamentlike-ondernemingsooreenkoms is uitgevoer nie en geen grondhuur-ooreenkoms is gesluit nie,” het hy bevestig.
*Stuur nuuswenke aan Namibia Media Holdings (NMH) se ondersoek-eenheid by [email protected] en [email protected].


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie