200 huise vir Plaas 37 teen September

Projek sluit noodsaaklike infrastruktuurdienste in
Erongo se goewerneur het die kontrakteurs aangemoedig om deur doelgerigtheid – nie wins nie – gelei te word en om hulle tot inklusiwiteit, volhoubaarheid en vernuwing te verbind.
Leandrea mouers
Tweehonderd huise sal teen September op Plaas 37 aan die buitewyke van Walvisbaai gebou word as deel van die nasionale program vir die massa-opgradering van informele nedersettings.

Die projek, wat amptelik vandeesweek begin het, word deur die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling met ’n bedrag van N$75 miljoen gefinansier, tesame met N$6 miljoen van die Walvisbaai-munisipaliteit.

Die goewerneur van die Erongostreek, Nathalia /Goagoses, het by die sooispitseremonie die 29 betrokke kontrakteurs aangespoor om doeltreffende, hoëgehalte-diens te lewer.

“Julle sal dit lewer. Ons gaan deurentyd werk,” het sy gesê.

“Kom ons volg die werksetiek van ons broers in die klipbedryf wat 24 uur per dag werk. Stel julle spanne aan. Werk in skofte. Moenie rus nie. Moenie slaap nie. Ons teiken is September 2025.”



STRENG VOORWAARDES

/Goagoses het bygevoeg daar sal geen voorskotbetalings wees nie.

“Inspekteurs, julle sal julle verslae evalueer en indien. Ek sal dit nie duld om te hoor dat ’n kontrakteur verdwyn het nadat hy betaal is nie. Ek wil nie daardie verslae hê nie.”

Sy het beklemtoon dat “elke sent wat ons gebruik aan die belastingbetalers van hierdie land behoort. Daar moet rekenskap daarvoor gegee word en vir die beoogde doel gebruik word. Geen opgeblase pryse nie. Geen omkoopgeld nie. Geen nonsens nie. Hierdie geld is bedoel om huise vir ons mense te bou.”

Die goewerneur het spanne aangemoedig om deur doelgerigtheid – nie wins nie – gelei te word en om hulle tot inklusiwiteit, volhoubaarheid en vernuwing te verbind.

“Niemand moet om enige rede van hierdie projek uitgesluit word nie. Ons moet billik en deursigtig in die toekenning van behuising wees.

“Laat hierdie projek ’n maatstaf vir toekomstige ontwikkelingsprojekte word. Indien dit goed geïmplementeer word, sal meer geld volg. Maar hoe Fase 1 hanteer word, bepaal wat volgende kom,” het sy bygevoeg.

Walvisbaai se onderburgemeester, Sara Mutondoka, het verduidelik die raad het ’n mandaat gekry om altesaam 1 250 huise te bou om die toenemende behoefte aan laekostebehuising aan te pak.

Sy het verduidelik dat die aanvanklike fase die bou van 200 huise sal insluit.

Die projek sluit noodsaaklike infrastruktuurdienste soos water, riool en paaie in, wat beide nuwe huiseienaars en bestaande inwoners bevoordeel.

Die kontrakteurs is ook opdrag gegee om plaaslike arbeiders in diens te neem, veral diegene wat op Plaas 37 woon.

“Dit is om werkskepping en vaardigheidsontwikkeling binne ons gemeenskap te verseker, wat ekonomiese bevryding bevorder,” het sy gesê.

Die regering het N$600 miljoen in die 2025-’26-boekjaar toegeken om nasionale behuisingsprojekte te finansier, insluitend op Plaas 37.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer