Windhoek leer by Moskou oor vervoer
’n Afvaardiging van Stad Windhoek (CoW) woon die vyfde internasionale vervoerberaad in Moskou, Rusland, by.
Stadsleiers en vervoerkudiges van oraloor die wêreld sal tydens die beraad oplossings bespreek vir die groeiende uitdagings wat stedelike mobiliteit in die gesig staar.
Meer as 140 afgevaardigdes wat 43 wêreldstede verteenwoordig, neem deel en sluit regerings, burgemeesters, vervoerowerhede, stedelike beplanners en bedryfsleiers in wat kundigheid deel oor die ontwikkeling van doeltreffende, volhoubare en veerkragtige vervoerstelsels.
Windhoek se deelname kom te midde van die hoofstad wat deur toenemende verkeersopeenhopings geteister word, asook die druk wat met ’n groeiende stedelike bevolking verband hou.
Volgens amptenare is hierdie uitdagings algemeen vir baie stedelike sentrums wêreldwyd, wat internasionale samewerking toenemend belangrik maak.
Die beraad bied ’n geleentheid vir deelnemende stede om idees uit te ruil, suksesvolle vervoermodelle te ondersoek en praktiese benaderings te verken wat openbare vervoer, verkeersbestuur en langtermyn- stedelike beplanning kan verbeter. Stadsamptenare sê insigte wat tydens die geleentheid verkry word, sal help om pogings te beïnvloed om Windhoek se vervoernetwerk te versterk, mobiliteit te verbeter en volhoubare ekonomiese ontwikkeling te ondersteun. Dit terwyl die lewensgehalte van inwoners verbeter word.
Die afvaardiging uit Windhoek word gelei deur burgemeester Sakarias Uunona en sluit die raadslid Ricardo Garoëb, uitvoerende hoof Moses Matyayi, die strategiese uitvoerende beampte vir stedelike vervoer en beplanning, Pierre van Rensburg, en die bestuurder vir eksterne betrekkinge en netwerkvorming, Christopher Eita, in.
Die afvaardiging se deelname is deur die regering van Moskou gefasiliteer. Benewens die konferensie se amptelike program, neem afgevaardigdes ook deel aan tegniese besoeke na Moskou se vervoerinfrastruktuur om sodoende eerstehandse insig te kry in die werking van sy openbare vervoerstelsels en verwante geriewe. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie