Wie gaan vir flenterpad se herstel betaal?

Rehabilitasie vir ou Monte Christoweg
Volgens Ongos Valley Development word die agteruitgang ondersoek en dat voorgestelde oplossings reeds aan die betrokke owerhede vir goedkeuring en implementering voorgelê is.
Desmarius Hansen

Die ontwikkelaar verantwoordelik vir die opgradering van die besige Eneas Peter Nanyembe-rylaan (voorheen bekend as Monte Christoweg) in Windhoek, sê hy is “deeglik bewus” van die twee dele wat dringende rehabilitasie nodig het. 

Dit het veral vererger nadat die spoedwalle op die B1-westelike verbypad geïnstalleer is en verkeer by die twee B1-afritte en -opritte naby die Van Eck-kragstasie toegeneem het, omdat motoriste die spoedhobbels wil vermy en verkies om eerder deur die noordelike nywerheidsgebied na die middestad te ry. 

Spitstye het ’n nagmerrie geword met groot opeenhopings van verkeer en die slaggate wat al hoe groter en dieper word. Dit bemoeilik dit vir bestuurders van kleiner voertuie om daardeur te ry sonder om hul voertuie te beskadig en liefs rondom die slaggate ry.

Die twee stelle verkeersligte van die kruisings was vir lank buite werking en is intussen herstel, maar hou nie tred met die groeiende verkeer, slakkepas verkeersvloei  en reuse-slaggate nie.    

Stad Windhoek het vroeër bekend gemaak die pad word in ’n dubbelweg teen ’n beraamde koste van sowat N$381 miljoen omskep. Die pad dek ’n afstand van 6,1 kilometer van die B1-hoofweg se westelike afrit tot by kruising met Matshitshistraat in die Havana-informele nedersetting. 

Die munisipaliteit het die projek uitgesonder as een van verskeie groot padprojekte wat daarop gemik is om verkeersopeenhopings te verlig en druk op omliggende paaie te verminder. 

Die jongste ontwikkeling beteken dat dele van die pad nou dringende rehabilitasie benodig, terwyl die breër projek nog onder konstruksie is.

Volgens Ongos Valley Development word die agteruitgang ondersoek en dat voorgestelde oplossings reeds aan die betrokke owerhede vir goedkeuring en implementering voorgelê is.

“Padkonstruksie is ’n inherent komplekse proses en selfs meer so op ’n aktiewe pad wat ’n daaglikse mengsel van voertuie dra en wat wissel van taxi's tot swaar kommersiële vragmotors,” het die ontwikkelaar gesê. 

Ongos Valley het egter nie bekend gemaak wat die agteruitgang veroorsaak het, hoeveel die rehabilitasie sal kos of wie uiteindelik die koste van die herstelwerk sal moet dra nie. 

“Ons wil die publiek en belangrike belanghebbendes verseker dat die rehabilitasie van hierdie twee kruisings ons volle aandag het. Ons bly daartoe verbind om ’n ten volle funksionele pad teen die einde van die konstruksietydperk te lewer,” het die ontwikkelaar gesê.

Die padprojek vorm deel van Windhoek se volhoubare stedelike vervoermeesterplan waarvan die projekspan bestaan uit Ongos Valley as ontwikkelaar, Lithon Project Consultants, AIM Infrastructure Engineers and Managers, Namibia Construction en Stad Windhoek. 

Sodra die pad voltooi is, sal dit ’n dubbele rylaan van 6,1 kilometer wees en kruisings, verkeersligte en voetgangerpaaie insluit.

In Augustus verlede jaar het munisipale amptenare gesê meer as 650 strate in die hoofstad het ernstige oppervlakslytasie, slaggate en strukturele skade. 

Toe is beraam die munisipaliteit gaan jaarliks N$384 miljoen benodig om die hoofstad se paaie tot aanvaarbare standaarde te onderhou en te rehabiliteer.

Die Eneas Peter Nanyemba-rylaan sal na verwagting die breër noordwestelike korridor van Windhoek bedien, ’n gebied wat volgens Ongos Valley die tuiste van meer as 250 000 inwoners is. 

- [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-10-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer