FOTO TER ILLUSTRASIE/ARGIEF
FOTO TER ILLUSTRASIE/ARGIEF

Regeringsreise sleutel tot Rundu-roete

Uitdagings nie bloot aan kaartjiepryse toegeskryf
Terwyl besprekings tussen belanghebbendes in die regering oor die herlewing van die Windhoek-Rundu-roete voortduur, sal kliënte moontlik na die voorgestelde nasionale lugredery, Namibia Air, moet kyk vir ’n alternatief.
Eliot Ipinge

FlyNamibia het regeringsreise kern geplaas in pogings om die Windhoek-Rundu-lugroete te laat herleef. 

Volgens die lugredery kan voorspelbare reisverpligtinge van staatsdepartemente die passasiersbasis verskaf wat nodig is om dié roete kommersieel volhoubaar te maak.

FlyNamibia se uitvoerende hoof, Nerine Uys, het gereageer op frustrasie van passasiers ná die roete die afgelope drie jaar opgeskort is. Dit laat reisigers grootliks afhanklik van openbare of private vervoer om die sowat 800 kilometer na Rundu aan te pak.

In ’n onderhoud met Republikein het Uys gesê die lugredery sal baie graag die roete weer in bedryf wil sien. Sy het beklemtoon dit gaan nie oor FlyNamibia se bereidwilligheid om Rundu te bedien nie, maar of die roete volhoubaar bedryf kan word. 

Uys het gesê die regering is een van die land se grootste werkgewers en genereerders van binnelandse reise”, en dat sy gereelde reisbehoeftes ’n deurslaggewende rol kan speel om roetes te ondersteun wat sukkel om genoeg passasiers te lok.

“Waar staatsdepartemente en besighede voorspelbare reisvereistes het, kan die verbintenis tot binnelandse lugreise die passasiersbasis verskaf wat nodig is om roetes te ondersteun wat andersins nie kommersieel lewensvatbaar sou wees nie,” het Uys gesê.

FlyNamibia het volgens Uys reeds verskeie benaderings getoets om die Windhoek-Rundu-roete lewensvatbaar te maak. Dit sluit in die verandering van vliegtuie en die verlaging van tariewe.

Aanvanklik is ’n groter ERJ-vliegtuig gebruik, wat die lugredery in staat gestel het om laer tariewe aan te bied in ’n poging om die aanvraag te stimuleer. 

Toe dit egter nie genoeg passasiersgetalle kon lok nie, het die lugredery na die B1900-vliegtuig met 18 sitplekke oorgeskakel om kapasiteit beter by aanvraag te laat pas. Met passasiersgetalle wat egter steeds onvoldoende gebly het, is die kleiner Cessna 208 Caravan ontplooi.

Volgens Uys het die veranderinge getoon dat die uitdaging nie bloot aan kaartjiepryse toegeskryf kan word nie.

“Ons het reeds getoets of laer tariewe en kleiner vliegtuie voldoende vraag sou stimuleer, en dit het nie,” het sy gesê.

Volgens FlyNamibia is daar in wese twee maniere om die koste per passasier te verminder. Dit sluit in die verhoging van passasiersgetalle of die verlaging van die koste om die vlug te bedryf.

Namibië se klein bevolking en relatief lae bevolkingsdigtheid maak dit egter moeilik maak om die bestendige passasiersvolumes te genereer wat nodig is om elke binnelandse roete lewensvatbaar te hou.

Uys het ook verwys na bedryfskoste wat grootliks buite sy beheer is en beskryf die lugredery as ’n “prysnemer” wat die meeste groot insetkoste betref.

“Brandstof is een van die grootste kostes en daar is beperkte mededinging in lugvaartbrandstof,” het Uys gesê en bygevoeg dat lughawekoste, navigasie, grondhantering en ander noodsaaklike lugvaartdienste ook tot die koste van vlugte bydra.

Sy het beklemtoon dat die volle waarde van ’n vliegkaartjie nie aan die lugredery gaan nie, met vlugte wat inkomste vir die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC), Namibiese Burgerlugvaartowerheid (NCAA), die Namibië Inkomste-agentskap (NamRA), brandstofverskaffers, hanteerders, spyseniers en ander diensverskaffers genereer.

Volgens Uys kan die regering en die private sektor dus ’n praktiese rol speel om binnelandse verbinding te versterk deur voorspelbaar gebruik van plaaslike lugdienste te maak.

FlyNamibia het gesê dat hy soortgelyke reëlings suksesvol met maatskappye toegepas het, waar hul reisbehoeftes gehelp het om dienste te vestig wat andersins moeilik sou gewees het om te onderhou.

Dit terwyl dit terselfdertyd toestande geskep het om pryse vir die breër reisende publiek te verlaag.

Ten spyte van die uitdagings, het Uys gesê dat FlyNamibia se verbintenis tot binnelandse vlugte steeds sterk is. 

“Ons doelwit is nie bloot om ’n lugredery te laat groei nie. Dit is om ’n sterk, volhoubare Namibiese lugvaartmaatskappy te bou wat geleenthede vir Namibiërs skep,” het sy gesê.

Terwyl besprekings tussen belanghebbendes in die regering oor die herlewing van die Windhoek-Rundu-roete voortduur, sal kliënte moontlik na die voorgestelde nasionale lugredery, Namibia Air, moet kyk vir ’n alternatief.

Voorgestelde tariewe vir Namibia Air, vervat in aansoeke wat in Staatskoerant No. 8971 – gedateer 8 Julie 2026 – gepubliseer is, toon tariewe van minder as N$2 000 vir ’n eenrigtingkaartjie op belangrike binnelandse roetes wat Windhoek met bestemmings soos Ondangwa, Walvisbaai, Lüderitz, Oranjemund, Rundu en Mpacha verbind.

Namibia Air het vroeër vandeesmaand sy bedryfslisensie van die Namibiese Vervoerkommissie ontvang, wat die weg gebaan het vir die lugredery om voort te gaan met die verkryging van vliegtuie en voorbereidings vir bedrywighede.

Die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, het die land verseker dat binnelandse vlugte onder die nuwe lugredery na verwagting in Desember vanjaar sal begin. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer