Marina-platform verwyder

Langtermynvisie onder oorweging
Oryx Properties sê verswakte toestande en strukturele kwessies by die gewilde vasmeerplek by Platz am Meer het tot die besluit gelei.
Adam Hartman

Die verswakte marina-platform by Platz am Meer in Swakopmund sou gister uitmekaar gehaal word nadat sand toenemend ophoop en strukturele skade dit onveilig gemaak het.

Oryx Properties se woordvoerder, PJ Bergh, het gesê dit is nodig om veiligheidsrisiko’s uit te skakel ná jare van agteruitgang binne die marina-gebied.

“Ons prioriteit is openbare veiligheid,” het Bergh vandeesweek in ’n onderhoud gesê.

“Die struktuur het ernstig agteruitgegaan en dit kan nie in sy huidige toestand voortgaan nie.”

Booteienaars en gebruikers is hierdie week ingelig dat alle vaartuie, toerusting en ander items verwyder moet word voordat kontrakteurs met die werk begin.

Volgens Bergh dateer die marina- en platformstrukture uit die oorspronklike Platz am Meer Waterfrontontwikkeling in 2015 en 2016. Hy het gesê die marina was aanvanklik bedoel as ’n visuele kenmerk én as ’n vorm van beskerming vir die waterfrontontwikkeling.

Hy het egter gesê die marina se breekwater-ontwerp funksioneer nie meer doeltreffend nie, wat sand toelaat om direk in die marina in te spoel eerder as om natuurlik weggespoel te word.

“Die sand hoop nou binne die marina self op,” het hy gesê. 

“Soos die sandvlak styg, kan bote nie meer veilig vasmeer of deur die gebied vaar of beweeg nie.”

Bergh het gesê Oryx Properties, wat die sentrum verlede jaar by Safari Investments oorgeneem het, het in Oktober 2025 omgewingskonsultante aangestel om studies oor moontlike toekomstige ingrypings by die marina te doen.

Hy het gesê enige toekomstige baggerwerk, herbouing of uitbreidingswerk sal eers prosesse van omgewingsgoedkeuring vereis.

“Ons kyk na verskeie opsies,” het hy gesê. “Ons wil behoorlik verstaan wat realisties daar kan werk voordat ons langtermynbesluite neem.”

Bergh het bygevoeg dat omvangryke herstelwerk reeds teen aansienlike koste gedurende die afgelope jaar aan dele van die aangrensende steier uitgevoer is, maar dat toestande rondom die marina self steeds versleg.

Gebruikers van die marina sê die drywende dok het in werklikheid vasgesit namate sand oor die afgelope twee jaar opgehoop het. Deining en golfwe het na bewering verdere skade aan boeie en infrastruktuur veroorsaak.

Een operateur wat die marina vir boothengel, aktiwiteitstoere en seereddingsoperasies gebruik het, het gesê booteienaars het die afgelope jare grootliks dele van die marina self in stand gehou. Een persoon het glo ook onlangs op die platform gegly en ’n arm gebreek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer