Geen gedienste grond vir ontwikkelaars
Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, James Sankwasa, sê grond wat deur die regering gediens word, moet gebruik word om gewone Namibiërs en nie private ontwikkelaars te bevoordeel nie. Volgens Sankwasa is dit deel van uitgebreide pogings om die land se akute agterstand in behuising te takel.
Sankwasa het Vrydag tydens ‘n besoek aan die informele nedersetting Okahandja Park in Windhoek beklemtoon grond wat met regeringsfondse gediens word, nie meer direk aan kommersiële ontwikkelaars toegeken moet word nie. Volgens die minister het die stap in die verlede behuisingskoste vir lae- en middelinkomstegesinne opgestoot.
“Dit is waar ons as 'n ministerie staan,” het Sankwasa gesê. Hy het verduidelik grond wat met openbare hulpbronne toegeken word, moet bekostigbare oplossings vir behuising ondersteun vir onderwysers, polisiebeamptes, kleinsake-eienaars en ook ander wat weens koste uit die die formele mark gestoot is.
Sy kommentaar weerspieël onlangse beleidsoptrede wat Sankwasa se ferm standpunt oor behuising en grondhervorming weerspieël.
Sankwasa het verlede week ook opdrag aan die munisipaliteit op Okahandja gegee om sy planne te stop om 101 residensiële erwe ter waarde van ongeveer N$11 miljoen aan private maatskappye te verkoop. Volgens Sankwasa sal sulke verkope kommersiële wins bo grondlose Namibiërs bevoordeel en moet dit eerder aan individue met werklike behuisingsbehoeftes geadverteer word.
Sankwasa het tydens ‘n oriënteringslypskool vir raadslede op Otjiwarongo ook die opdrag herhaal dat gedienste staatsgrond nie meer direk aan private ontwikkelaars toegeken mag word nie.
Hy het beklemtoon dat grond wat met openbare fondse gediens word, gewone burgers moet bevoordeel. Volgens Sankwasa moet private ontwikkelaars wat kommersieel wil sake doen, eers hul eie grond teen markpryse diens omdat dit die sleutel tot bekostigbare behuising is.
Meer as 600 000 Namibiërs word gedwing om in informele nedersettings te woon, wat 'n verstommende 41,6% van die land se stedelike bevolking verteenwoordig. Dit volgens die die Namibiese Informele Nedersettings Basislynverslag wat in Julie 2025 vrygestel is.
Die verslag identifiseer 606 000 mense wat in geïmproviseerde behuisingsstrukture in 563 informele nedersettings landwyd woon. Volgens die verslag is net 144 van die 563 informele nedersettings in die land formeel geproklameer. [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie