Nóg vyf jaar vir Uis-Omaruru-pad
Die opgradering van die oorblywende 117 kilometer van die pad tussen Omaruru en Uis sal na raming N$1,36 miljard kos en het geen bevestigde befondsing nie.
Die Paaieowerheid (RA) se woordvoerder, Hileni Fillemon, het gesê die pad, geregistreer as M0064 en bekend as die C36, is ingesluit in die owerheid se geïntegreerde strategiese besigheidsplan vir 2026-’27 tot 2030-’31, met die implementering wat oor vyf jaar beplan word.
Die roete is 123 kilometer lank. Ses kilometer is tot bitumenstandaard opgegradeer – twee kilometer vanaf Omaruru en vier kilometer vanaf Uis.
Die beraming vir die oorblywende 117 kilometer dek ontwerp- en toesigkonsultasie, vergoeding vir grond en eiendom en konstruksie.
“Befondsing is nog nie bevestig nie en die implementering bly onderhewig aan die beskikbaarheid van fondse,” het Fillemon gesê.
Sy het gesê gedetailleerde ontwerpwerk en tenderdokumentasie is nie voltooi nie en geen verkryging word gedurende die huidige boekjaar beplan nie.
“Die datum vir die tenderadvertensie is daarom nog nie vasgestel nie,” het sy gesê.
Die grondpadgedeelte is laas in die 2019-’20-boekjaar weer met gruis bedek en geen verdere hergruising word beplan nie. Die ses kilometer wat reeds geteer is, is vir herseëling in 2027-’28 begroot.
Die pad het ter sprake gekom by die streekraad van Erongo se laaste algemene vergadering op 10 Augustus, waar die voorsitter, Lazarus Kanelombe, verslag gedoen het oor ’n besoek aan die paaie tussen Omaruru en Uis en Uis en Omatjete. Die besoek was deur die adjunkminister van werke en vervoer, Hans Haikali, Dâures-kiesafdeling se raadslid, Inecia Brandt, en amptenare van die ministerie.
“Ons verwelkom die aanduiding dat die Omaruru-Uis-pad vir implementering geprioritiseer is en sien uit na die aanvang daarvan,” het Kanelombe gesê.
Oor die Uis pad tussen Omatjete het Fillemon gesê daar bestaan geen projek nie.
“Daar is tans geen direkte padprojek beplan vir die roete van ongeveer 69 km tussen Uis en Omatjete nie,” het sy gesê.
Omatjete word vanaf Uis bereik via die M0076 en D2344. Die M0076 is vir opgradering tot bitumenstandaard geoormerk.
Reaksies op die raad se plasing oor die besoek het gevra vir aandag aan ander roetes in die gebied, onder meer die pad tussen Usakos en Okombahe, die pad tussen Omaruru en Omatjete en die pad tussen Karibib en Otjimbingwe.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie