Herrie oor huur

Swakopmund se behuisingskrisis verdiep
Gewone werkersklas-inwoners vind dit byna onmoontlik om toegang tot bekostigbare grond en ordentlike behuising in die kusdorp te kry.
Desmarius Hansen

Meer as 2 000 gefrustreerde Swakopmund-inwoners het kragte onder die nuutgestigte Swakopmund Rent Payers Movement saamgesnoer en beskuldig die munisipaliteit daarvan dat hulle nie die groeiende behuisingskrisis aanspreek nie.

Duisende inwoners is in duur huurverblyf en sinkhuise in informele nedersttings vasgevang. 

Die voorsitter van die beweging, /Narib Mabasen, het gesê gewone werkersklas-inwoners vind dit byna onmoontlik om toegang tot bekostigbare grond en ordentlike behuising in die kusdorp te kry. 

“Huurders in Swakopmund sukkel om bekostigbare grond te kry om huise te bou,” het Mabasen gesê. 

“Huispryse is uiters hoog en net ’n paar behuisingseenhede word elke jaar ontwikkel. Daarom val baie mense vas in huurakkommodasie sonder die hoop om ooit ’n huis te besit.”

Hy het gesê die situasie word vererger deur die afwesigheid van grondveilings wat spesifiek op eerstekeer-huiskopers gemik is.

“Daar is tans geen grondveilings wat vir eerstekeer-kopers voorsiening maak nie. Dit maak dit baie moeilik vir huurders om toegang tot grond te kry,” het hy bygevoeg.

Volgens Mabasen het meer as 2 000 inwoners ’n onlangse gemeenskapsvergadering bygewoon om hul bekommernisse uit te spreek en as deel van die beweging te registreer.

“Ons het data van meer as 2 000 huurders ingesamel om ’n databasis te skep. Dit wys hoe ernstig die probleem is. Mense is desperaat vir werklike oplossings,” het hy gesê.

Die beweging eis nou dringende ingryping van die munisipaliteit van Swakopmund, insluitend vinniger grondlewering en die instelling van bekostigbare grondveilings wat uitsluitlik vir eerste huiskopers gereserveer is.

“Ons wil grondveilings hê wat bekostigbaar is en net vir huurders bedoel is. Ons wil ook hê dat meer grond aan die Shack Dwellers Federation toegeken word, wat bewys het dat dit meer huise vir uiters lae-inkomste verdieners kan bou as die Nasionale Behuisingsonderneming (NHE),” het Mabasen gesê.

Hy het verder streng maatreëls voorgestel om spekulasie in eiendom te voorkom.

“Die munisipaliteit moet ’n klousule insluit wat kopers verhinder om grond vir minstens tien jaar te herverkoop. Dit sal verseker dat die grond werklike inwoners bevoordeel en nie beleggers nie,” het hy gesê,

Mabasen het die stygende huurpryse aan ’n wanbalans tussen vraag en aanbod toegeskryf.

“Huur is hoog omdat die vraag hoog is en die aanbod laag is. Verhuurders vra wat hulle vra omdat die mark dit toelaat.

“As meer residensiële grond vir werkersklasmense beskikbaar gestel word, sal die vraag na huur daal en pryse sal daal,” het hy aangevoer.

EIENDOMSONTWIKKELAARS

Hy het ook eiendomsontwikkelaars gekritiseer omdat hulle hoofsaaklik op woonstelle fokus in plaas van bekostigbare gesinshuise.

“Ons sien dat te veel woonstelle gebou word en baie min huise. Ontwikkelaars wat grond koop, behoort verplig te word om vir minstens drie jaar huise vir herverkoop te bou om te help om die agterstand in behuising te takel,” het hy bygevoeg.

Agter die beleidsargumente is daar duisende persoonlike stories van swaarkry. ’n Langtermyn-inwoner, Baku !Nawases, het gesê sy is al langer as ’n dekade sonder sukses op die munisipale behuisingswaglys.

LANG WAGLYS

“Ek het in 2013 vir ’n huis aansoek gedoen en ek volg dit sedertdien op,” het sy gesê. 

“Elke keer as ek bygewerkte dokumente indien – selfs wanneer ek ’n salarisverhoging kry, werk ek my aansoek by – bly ek op die waglys.”

!Nawases het haar frustrasie uitgespreek dat nuwelinge blykbaar voor langtermyn-inwoners bevoordeel word.

“Mense van buite Swakopmund kom en kry maklik huise, terwyl inwoners wat al jare hier woon, geïgnoreer word,” het sy gesê.

‘UITBUITING’

Inwoners het ook verhuurders daarvan beskuldig dat hulle huurders uitbuit. 

“Verhuurders is vir ons ’n probleem. Party van hulle besit meer as een huis  – twee of selfs drie eiendomme – terwyl ons sukkel net om ’n plek te kry om te bly,” het !Nawases gesê.

“Ek betaal N$1 600 per maand om ’n klein sinkhuis te huur, tog is dit byna dieselfde bedrag as wat mense vir nuwe NHE-huise betaal. Dit maak net nie sin nie.”

’n Ander huurder, wat anoniem wou bly uit vrees vir viktimisering, het gesê sy en haar gesin sit al langer as 15 jaar in die huursiklus vasgevang.

“Ons het meer as tien jaar gelede vir behuising aansoek gedoen en ons is steeds op die waglys. Elke keer as ons opvolg, sê hulle net vir ons om te wag,” het sy gesê.

“Teen nou kon ons reeds ons eie huis afbetaal het, in plaas daarvan om elke maand huur te betaal met niks om daarvoor te wys nie.”

Sy het gesê sommige verhuurders plaas onbillike beperkings op huurders.

“Hulle beperk selfs watter toestelle ons kan gebruik, soos strykysters of ketels en beweer dit mors elektrisiteit. Tog is ons diegene wat huur betaal.”

Die huurder het bygevoeg dat huurders dikwels gedwing word om eiendomme op eie koste te verbeter. 

“Wanneer ons die sinkhuise waarin ons woon regmaak of opgradeer, betaal ons self daarvoor. Verhuurders dra nie by nie en hulle trek nie opknappingskoste van die huur af nie.”

'IN DIE STEEK GELAAT'

Sy het gesê baie inwoners voel polities in die steek gelaat: “Ons stem altyd, maar geen werklike verandering kom ooit om ons met behuising te help nie. Ons is moeg vir beloftes.”

Die beweging sê dit sal voortgaan om inwoners te mobiliseer en vir dringende hervormings te eis totdat werklik opgetree word om die kusdorp se groeiende behuisingskrisis te takel.

Die munisipaliteit het teen druktyd nie op vrae gereageer nie.

[email protected]

 

Kommentaar

Republikein 2026-02-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer