Aansoeke stroom in vir Kaoko Fria

Massiewe opkoms in Windhoek
Die projek het reeds 35 000 CV’s uit die Zambezistreek ontvang, wat die hoë vlak van belangstelling landswyd aandui.
Phillipus Josef

Die eerste dag van die drie dae lange registrasieveldtog in Windhoek vir die beplande Kaoko Fria-slimstad- en diepseehawe-projek in Kunenestreek, het ’n enorme opkoms gehad.

Met meer as 1 000 aansoekers het gister na die Havana Threeway-sportveld gestroom.

Die registrasie, wat tot 25 Februarie duur, is deel van ’n landswye siftingsproses vir voornemende werkers, het Network Media Hub (NMH) by Kaoko Fria Investment se woordvoerder, Immanuel Nghifikwa, verneem.

“Dit is net die registrasieproses wat as ’n sifting sal dien. Mense moet dit nie met outomatiese indiensneming verwar nie,” het hy beklemtoon.

Nghifikwa het gesê aansoekers sluit beide geskoolde en ongeskoolde werkers in, met en sonder formele kwalifikasies, vanaf 18 jaar en ouer.

Die registrasieveldtog beklemtoon die dringende behoefte aan werk in Namibië, met Nghifikwa wat die opkoms as “op steroïede” beskryf het.

Hy het aangedui dat die projek reeds 35 000 CV’s uit die Zambezistreek ontvang het, wat die hoë vlak van belangstelling reland illustreer.

“Mense het ’n waardige bestaan, werk en oplossings vir die behuisingskrisis nodig. Hierdie projek kom na vore om hierdie maatskaplike uitdagings aan te pak,” het hy bygevoeg.


SEWE JAAR WERKLOOS

Onder diegene wat gister in die ry gestaan het, was Amon Nashuta, wat al sewe jaar werkloos is en drie kinders onderhou. In ’n gesprek met NMH het Nashuta in die ry staan as uitputtend beskryf.

“Ek is sedert vroeg oggend hier en die rye beweeg baie, baie stadig. Ek weet nie hoe hierdie dinge gaan werk nie. Daar is niks wat die proses vinniger maak nie. Jy wag net en hoop,” het hy gesê.

Nashuta het erken die kans om gekies te word voel skraal, maar hy het gesê hy móét probeer.

“Miskien sal daar hierdie keer, al klink dit vergesog, iets daarvan kom,” het hy gesê.

“Daar is min hoop dat my naam uit al die mense hier gekies sal word, maar ek het geen keuse nie. Ek wag al jare vir ’n geleentheid soos hierdie, so ek hoop net dit werk uit vir my familie.”

Die Kaoko Fria-slimstad en diepseehawe-projek, onder leiding van besturende direkteur van Kaoko Fria Investment, Michael Petrus, is al vir etlike jare in ontwikkeling.

Oorspronklik beplan as ’n diepseehawe by Kaap Fria/Angra Fria in die Kunenestreek, het die projek uitgebrei tot ’n volledig gefaseerde slimstad wat 85 000 hektaar beslaan.

Die inisiatief het die ondersteuning van noordelike tradisionele owerhede ontvang, insluitend plaaslike konings wat grond vir die ontwikkeling toegeken het.

Volgens Nghifikwa is die landswye registrasie deel van ’n noukeurig beplande proses om billike en gebalanseerde verteenwoordiging uit alle streke te verseker.

“Wanneer konstruksiewerk begin en nywerhede aan boord kom, sal aansoekers uit hierdie registrasielyste gekies word,” het hy verduidelik.

Die projek het sy haalbaarheidstudies voltooi, wat bevestig het dat dit omgewingsaanvaarbaar, tegnies uitvoerbaar, ekonomies geregverdig en finansieel bankbaar is. Dit sluit ’n diepseehawe, ’n slimstad, ’n internasionale lughawe, ’n droëhawe by Katima Mulilo en toegewyde spoor- en padlogistieke korridors in, wat direkte verbinding tussen binnelandse Namibië, streekmarkte en wêreldwye handelsroetes vestig.

Kaoko Fria Investment verwag dat die projek nywerheidsontwikkeling, waardetoevoeging, vaardigheidsontwikkeling, deelname van klein- en medium-ondernemings (SME’s) en grootskaalse indiensneming sal vestig, veral vir die jeug.

Volgens vorige berigte het die kapitaalbelegging van US$74 miljard tot ’n geraamde US$100 miljard (ongeveer N$1,5 triljoen) opgeskiet, wat uitgebreide infrastruktuur en langtermyn-volhoubaarheidsmaatreëls weerspieël. Altesaam 70% van die ekwiteit is vir Namibiese en Afrika-aandeelhouers gereserveer, terwyl 30% aan internasionale strategiese vennote toegeken is.

Nghifikwa het werklose Namibiërs en dié wat van werklose vriende of familie bewus is, aangemoedig om tydens die voortgesette landswye veldtog te registreer. Hy het herhaal dat die registrasie ’n eerste stap is na moontlike indiensneming sodra konstruksiewerk en nywerheidsontwikkeling vorder.

[email protected] 



Kommentaar

Republikein 2026-02-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer