Nautedam se sluise tweede keer in twee weke oop
Die Nautedam naby Keetmanshoop se sluise is vir die tweede keer binne twee weke oopgetrek nadat die Suide die afgelope Paasnaweek milde reën ontvang het. NamWater het gisteroggend die beheerde vrystelling van water begin nadat die damvlak 107,6% bereik het. "Hierdie maatreël is nodig om die huidige hoë watervlakke te bestuur, wat volle voorsieningskapasiteit oorskry het weens onlangse invloei," lui 'n verklaring van NamWater. Alle relevante belanghebbendes is in kennis gestel en voorsorgmaatreëls is in plek vir veiligheid. "Die sluise is oopgetrek teen 'n vloeitempo van 200 kubieke meter per sekonde en is geleidelik tot 300 kubieke meter per sekonde verhoog totdat die damvlak tot 104% gedaal het, met die uiteindelike doel om na 100% terug te keer." Volgens NamWater spruit die besluit uit hidrologiese voorspellings wat geen reënval in die volgende twee weke aandui nie en die situasie word verder noukeurig gemonitor. FOTO OTIS DANIELS
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie