Wise hou voet by stuk
’n Hoëvlak-afvaardiging van Namibië se regterlike leierskap het op 21 Januarie met die minister van justisie en arbeidsverhoudinge Wise Immanuel vergader om te eis dat ’n Staatskoerant wat onlangs gepubliseer is, teruggetrek word.
Die landdrostekommissie en die Landdroste- en Regtersvereniging van Namibië (MJA) het ’n beroep op Immanuel gedoen om die betrokke Staatskoerant te onttrek, omdat hy nie soos vereis deur die landdrostewet konsultasies gehou het nie. Network Media Hub (NMH) verneem op goeie gesag die kommissie was saam met die magistrate onkant gevang deur die feit dat ’n Staatskoerant in Desember 2025 sonder konsultasies gepubliseer is.
“Wat nog meer kommerwekkend is, is dat die minister landdroste in stryd met ooreenstemmende grade in die regering, op die laagste skale gegradeer het. Dit sonder enige konsultasie met die landdrostekommissie soos deur die wet vereis word,” het ’n bron aan NMH gesê.
Die afvaardiging – bestaande uit verteenwoordigers van die landdrostekommissie, die kantoor van die hooflanddros, die kantoor van die uitvoerende direkteur, asook die uitvoerende komitee van die MJA – wil nou die regering amptelik versoek om kennisgewing no. 8810 van 18 Desember 2025 in die Staatskoerant terug te trek wat landdroste se diensvoordele reguleer.
Die alternatief is om die minister hof toe te vat.
Die stap volg op toenemende ontevredenheid onder landdroste landswyd wat breë meningsverskille het oor die inhoud en implikasies van die publikasie.
AGTERSTALLIG
Volgens inligting wat intern gedeel is, het die uitvoerende komitee van die MJA met hooflanddros Vanessa Stanley en die waarnemende voorsitter van die landdrostekommissie vergader om oor die saak te beraadslaag.
Die vergadering het na bewering besluit dat die kommissie, voordat dit oorgaan tot litigasie, eers administratiewe verligting ten volle ondersoek deur die ministeries van justisie en finansies te versoek om die kennisgewing terug te trek.
“Dit het misluk aangesien die minister [Immanuel] weier om die Staatskoerant terug te trek,” het die bron gesê.
Intussen is die verwerking van agterstallige betaling teruggehou wat gekoppel is aan die gepubliseerde diensvoordele, hangende duidelikheid van Immanuel oor of die kennisgewing teruggetrek sal word.
In ’n interne memorandum gedateer 6 Februarie 2026 het Stanley afdelingslanddroste in kennis gestel dat die kommissie hul menings vra oor of die diensvoordele wat in Desember gepubliseer is, uitbetaal moet word. Dít terwyl op ’n regsmening vir die gepaste plan van aksie gewag word.
Landdroste is sedertdien gevra om hul standpunt aan te dui.
Die uitvoerende direkteur van justisie, Audrin Mathe, het alle navrae na die minister se kantoor verwys.
SPANNING
Die jongste ontwikkeling kom teen die agtergrond van verlede jaar se ongekende sloerstaking deur landdroste in November 2025 – een van die mees ernstige ontwrigtings in Namibië se laer howe sedert geregtelike onafhanklikheid in 1990.
Gefrustreerde landdroste landswyd het hofverrigtinge vertraag, ná herhaalde oproepe vir verbeterde werksomstandighede wat weinig vordering opgelewer het. Griewe sluit in lae vergoeding in vergelyking met ander takke van die regbank, oorweldigende werklas, vertragings in bevorderings, beweerde begunstiging en onvoldoende institusionele ondersteuning. Kommer oor veiligheid en sekuriteit het ook toegeneem.
VRESE
Dié vrese het prominent na vore getree ná die beheerstaatsaanklaer van Ondangwa, Justine Shiweda vandeesmaand in ’n hospitaal aan haar beserings beswyk het wat sy in Oktober 2025 in ’n gewelddadige aanval opgedoen het.
Dít nadat sy borgtog aan die voormalige polisiebeampte Abner Mateus geweier het.
By Shiweda se begrafnis in Onambango het lede van die regsgemeenskap gewaarsku dat haar dood nie tevergeefs moet wees nie. Hulle het gevra vir beter beskerming vir beamptes van die hof en sterker institusionele steun vir regsamptenare wat onder druk werk.
Operasionele frustrasies het spanning verder aangevuur. In een geval het die betaling van reis- en verblyftoelae (S&T) vir landdros Billy Mutwa Lutaka glo meer as ’n maand geneem om te verwerk. Lutako is die voorsittende landdros in die hoëprofiel-moordsaak waarby die plaaslike dokter Fillemon (Fly) Nakanduungile en vyf ander by Shiweda se dood betrek word.
Sulke vertragings, voer amptenare aan, ondermyn die moraal en die doeltreffende funksionering van die howe.
Immanuel het intussen gesê hy het geen amptelike kommunikasie van die kommissie ontvang wat vra vir die terugtrek van die kennisgewing wat met landdroste se diensvoordele verband hou nie.
In reaksie op vrae het die minister gesê daar is tans geen versoek voor sy kantoor wat die terugtrek of wysiging van die Staatskoerant versoek nie.
Volgens Immanuel is die Staatskoerant gepubliseer op versoek van die MJA vir die publikasie van toestemming van die voormalige minister van finansies, soos vervat in ’n brief gedateer 2 Oktober 2023. Die toestemming het gevolg op ’n versoek deur die destydse minister van justisie.
Volgens Immanuel is die eis vir publikasie op 18 Desember 2025 prakties van krag en in ooreenstemming met beide letter en gees van die toestemming wat toegestaan is. Volgens hom was dit nie onderhewig aan heronderhandeling nie.
Oor die moontlikheid van regstappe indien die kennisgewing in die Staatskoerant nie teruggetrek word nie, het die minister volgehou dat daar geen dwingende regs- of bestuursgrondslag is wat die terugtrekking daarvan noodsaak nie.
“Daar is geen dwingende regs- of bestuursrede om die terugtrekking te noodsaak nie,” het Immanuel gesê.
Oor kommer oor werwingsprosesse – insluitend bewerings dat onderhoude vir permanente landdrosposte gevoer is, maar tydelike landdroste later aangestel is sonder terugvoer aan die kandidate wat ondervra is – het die minister gesê die saak val binne die mandaat van die kommissie.
“Die landdrostekommissie is belas met die werwingsproses van landdroste en die minister is aan die einde van die proses. Die kommissie is dus beter geposisioneer om op hierdie kommer te reageer,” het hy gesê.
Oor veiligheidskwessies wat tydens verlede jaar se staking geopper is, veral in die lig van die noodlottige aanval op wyle Shiweda, het Immanuel gesê die veiligheid van regsamptenare en aanklaers bly ’n hoofbekommernis.
Hy het bevestig dat ’n tegniese komitee met verskeie belanghebbendes ná die wrede aanval op Shiweda gestig is om ’n omvattende assesering oor veiligheid binne die justisiesektor uit te voer en aanbevelings te maak oor wat gedoen moet word, hoe dit gedoen moet word en binne watter tydsraamwerk.
“Die komitee benader dit as ’n saak van dringendheid,” het hy gesê.
Die minister het bygevoeg indien daar enige werklike kommer is wat ooreenstem met wetlike en bestuursraamwerke en wat deur die fiskus ondersteun word, die ministerie altyd gereed is vir konstruktiewe betrokkenheid.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie