No Image Caption

Werkers dagvaar vakbond

Iréne-Mari van der Walt
Vyf-en-twintig voormalige mynwerkers dagvaar die Mynwerkersvakbond van Namibië (MUN) nadat hulle glo ná ’n onwettige staking afgedank is.

Die mynwerkers meen dit was die verantwoordelikheid van die MUN en sy streekverteenwoordiger in die ||Kharasstreek, Elvis Bekele, om hulle in kennis te stel dat hulle optrede onwettig was en dit tot hul afdanking kon lei.

Die groep eis byna N$500 000 van die MUN en Bekele teen 20% rente per jaar ná die hofsaak gebring is.

Volgens hofstukke het die werkers in Desember 2016 gestaak en is hulle weke later afgedank. Hulle was nie geregtig op skeidingspakkette nie aangesien hulle afgedank is.

Die werkers was almal tydens die staking glo lede van die vakbond en het dus verwag dat Bekele namens die MUN na hulle werksbelange sou omsien.

Die werkers eis ’n bedrag gelykstaande aan hul skeidingspakkette wat nie uitbetaal is nie.

Bekele het in ’n verklaring aan die hof die mynwerkers se beweringe teengestaan. Hy beweer die werkers – in die teenwoordigheid van die MUN se adjunkvoorsitter in die ||Kharasstreek, Allen Kalumbu, en ’n verteenwoordiger van Scorpion Zinc, Petersen Kambinda – is daarop gewys dat die staking onwettig sou wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer