Weduwee: My kinders soek antwoorde
’n Weduwee van Tsumeb se regstryd teen die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, die Namibië Instituut vir Patologie (NIP) en Lancet Laboratories (Pty) Ltd duur voort, nadat die hoërhof in Windhoek die saak tot 26 Januarie 2026 vir ’n statusverhoor uitgestel het.
Die eiser, wie se naam om regsredes weerhou word, dagvaar die gesondheidsminister, die Namibiese staatsinstelling en die Suid-Afrikaanse laboratorium vir skadevergoeding oor die beweerde verkeerde of nalatige hantering van haar oorlede man se nadoodse ondersoek en laboratoriumverslae.
Volgens die eiser het haar 38-jarige man, ’n sweiser by ’n plaaslike maatskappy op Tsumeb, onverwags in die werkswinkel gesterf toe hy vermoedelik doodgeskok is. Sy beweer toerusting is uit die werkswinkel verwyder en die kringtelevisiebeeldmateriaal van die spesifieke tydgleuf het spoorloos verdwyn.
Volgens haar pleitstukke was hy nie siek nie en het NIP die weefselmonsters van die nadoodse ondersoek vir histologiese ontleding hanteer, maar dit het egter tydens die vervoer na Lancet Laboratories in Suid-Afrika verlore gegaan.
Die weduwee sê tydens haar man se dood was hul babaseuntjie ses weke en hul dogtertjie twee jaar oud, haar man die enigste broodwinner en dat die werkgewer na bewering nog niks aan die gesin uitbetaal het nie.
Sy beweer sy het maande lank in onsekerheid verkeer oor die uitslae van die nadoodse ondersoek en dat die gebrek aan terugvoering haar diep emosioneel en geestelik geraak het.
“Ek wou net antwoorde vir my en my kinders hê om afsluiting te kry,” het sy gister aan Network Media Hub (NMH) gesê.
VERWEERDERS SE STANDPUNTE
In sy gewysigde pleitdokument ontken NIP dat hy enige wetlike of kontraktuele verpligtinge teenoor die weduwee gehad het.
Die instelling voer aan sy ooreenkoms het slegs met die gesondheidsministerie bestaan en dat sy nie een van die partye tot daardie ooreenkoms was nie.
NIP bevestig wel dat die instituut die nadoodse weefselmonsters van die ministerie ontvang het en dit op 26 November 2021 aan Lancet Laboratories vir ontleding oorhandig het.
Die instelling sê die aflewering is na bewering behoorlik bevestig en dat NIP dus nie aanspreeklik gehou kan word vir enige beweerde vertraging of emosionele skade nie.
Volgens ’n bevel wat onlangs deur regter Esi Schimming-Chase in Windhoek uitgereik is, is die saak tot 26 Januarie 2026 vir ’n statusverhoor uitgestel.
Die hof het aangedui die partye is tans besig om ’n gesamentlike verklaring van ooreengekome feite op te stel, wat – indien dit gefinaliseer word – dit die bewyslas van die saak aansienlik kan beperk.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie