Vrou se identiteit ‘onwetend gebruik’
’n Vrou van Windhoek Hileni Itana het na bewering ontdek dat haar identiteit sonder haar kennis gebruik is om ’n besigheidsbankrekening te open. Die rekening is gekoppel aan die Namcor–Enercon-bedrogsaak waarby die voormalige Bank Windhoek-werknemer en 12de beskuldigde, die 49-jarige Heidi Boois, betrek word.
Boois het haar eerste verskyning in die landdroshof in Windhoek voor landdros Ilge Rheent gemaak. Sy staar verskeie aanklagte in die gesig, insluitend bedrog, vervalsing, geldwassery en oortredings van finansiële en teenkorrupsiewette wat verband hou met die beweerde onwettige opening en bedryf van ’n besigheidsrekening onder Itana se naam.
Die klagstaat lui dat Boois in Oktober 2022 glo die open van ’n besigheidsrekening vir Quality Meat Supplies CC, ’n maatskappy wat aan die voortvlugtige sakeman Victor Simaneka Malima gekoppel is, by Bank Windhoek gefasiliteer het deur Itana se identiteitsdokumente sonder haar kennis of teenwoordigheid te gebruik.
Die staat beweer Boois, wat destyds as ’n verkoopsbestuurder by die bank in diens was, doelbewus gehelp het om die rekening te open. Die rekening is later gebruik om sowat N$3,36 miljoen oor te plaas na individue en entiteite wat met Namcor-amptenare verbind word.
Dit sluit Cornelius Willemse in, destyds Namcor se bestuurder vir voorsiening en logistiek, asook Panduleni Farming CC, ’n entiteit wat aan die man van Namcor se voormalige finansiële uitvoerende beampte, Jennifer Hamukwaya, gekoppel is.
Boois word verder daarvan beskuldig dat sy Itana se handtekening op dokumente vir die open van die rekening en ook uittreksels van raadsvergaderings vir Quality Meat Supplies CC vervals het.
Sy sou na bewering, terwyl sy by die bank in diens was, transaksies met Malima aangegaan en gefassiliteer het wat vermoedelik onwettig was.
Boois se prokureur, Kadhila Amoomo, het die hof meegedeel dat hy Vrydag haar inhegtenisneming sal betwis en sal aanvoer dat die lasbrief vir haar arrestasie foutief was. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie