Voormalige hoofregter sterf
‘n Afgetrede hoofregter van Namibië wat ‘n reusebydrae tot Namibiese reg gelewer het, Johan Strydom, is Vrydag in die ouderdom van 88 op Swakopmund oorlede. Hy was Namibië se eerste regterpresident van die hooggeregshof na onafhanklikheid in 1990 en is in 1999 as die land se derde hoofregter en as opvolger vir hoofregter Ishmail Mohamed aangestel. Hy het die amp tot in 2003 beklee en daarna tot 2015 as waarnemende appèlregter in die Hoërhof gedien. Strydom se bydrae tot die Namibiesea regsleer het verskeie regsgebiede gedek waaronder grondwetlike, administratiewe, straf- en handelsreg asook insolvensie- en maritieme reg. Hy het ook tot 2015 as waarnemende regter van die hooggeregshof van Namibië gedien.
Volgens ‘n verklaring deur die Namibiese kantoor van die regsbank het wyle Strydom tydens sy dienstydperk 'n beduidende rol gespeel in die versterking van die oppergesag van die reg en geregtelike onafhanklikheid. Sy bydrae tot regspleging word ook weerspieël in die talle uitsprake wat hy gelewer het en die poste wat hy tydens sy 38 jaar in openbare diens beklee het.
Strydom is beskryf as 'n toegewyde leier wat die regsbank en Namibië met onderskeiding gedien het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie