• Tuisblad
  • Howe
  • Verpleegster dagvaar landdros vir skadevergoeding
Landdros Unchen Kanjore FOTO ARGIEF
Landdros Unchen Kanjore FOTO ARGIEF

Verpleegster dagvaar landdros vir skadevergoeding

Beweerde misbruik van mag
Die landdros se beweerde versuim om haarself van die saak te onttrek, het na bewering die integriteit van die verrigtinge in gedrang gebring.
Rita Kakelo
’n Staatsverpleegster wat ’n nag in polisieaanhouding sonder kos en water moes deurbring, dagvaar ’n landdros vir wat sy beskryf as ’n blatante misbruik van regterlike mag.

Lucia Hamana eis in die hoërhof N$500 000 in skadevergoeding van die Keetmanshoop-landdros Unchen Konjore. Hamana het aanvanklik N$200 000 geëis, maar die eis is ná nuwe regsontwikkelinge aangepas.

Die hoërhof se voorsittende regter Beatrix de Jager het albei partye middel Junie opdrag gegee om op 16 Julie ’n saakbeplanningskonferensie by te woon. ’n Gesamentlike saakplan moet teen 10 Julie ingehandig word.

Die eis hou verband met ’n onderhoudsverhoor wat in September 2023 in die landdroshof op Keetmanshoop plaasgevind het, waartydens Hamana deur Konjore verteenwoordig is. Laasgenoemde word daarvan beskuldig dat sy Hamana se gewese man, Heinrich Karawora, se appèl teen onderhoud behartig het terwyl sy in ’n verhouding met hom was.

Volgens Hamana het Konjore versuim om haarself van die saak te onttrek, en dié konflik van belange verberg het en gevolglik die integriteit van die verrigtinge na bewering in gedrang gebring.

Hofdokumente dui daarop dat Hamana gelas is om N$1 600 per maand aan kinderonderhoud te betaal, ’n bedrag wat sy onbekostigbaar gevind het op haar maandelikse inkomste van ongeveer N$7 000.

Toe sy versuim het om dit te betaal, is 'n dagvaarding vir haar inhegtenisneming in Februarie 2024 uitgereik, wat tot haar arrestasie op Bethanie gelei het.

Volgens Hamana moes sy ’n nag in “onmenslike toestande” deurbring, wat ingesluit het aanhouding in ’n sel op Keetmanshoop sonder kos of water terwyl sy op medikasie vir hoëbloeddruk was. Haar saak het eers laat die volgende aand ná ingryping van haar suster voorgekom. Hamana wat in die hoërhof deur Florian Beukes verteenwoordig word, sê die skadevergoeding is weens emosionele trauma, skade aan haar reputasie en die oortreding van haar grondwetlike regte.

Sy het na die oortredings van bepalings van die Namibiese Grondwet verwys wat haar waardigheid, regverdige verhoor en vryheid van vernederende behandeling beskerm.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer