• Tuisblad
  • Howe
  • Vermiste aansoeke kern in hofstryd oor WHS-hoof

Vermiste aansoeke kern in hofstryd oor WHS-hoof

Rita Kakelo

Die voortgesette regstryd oor die aanstelling van ’n skoolhoof by Windhoek Hoërskool (WHS) het ’n nuwe wending geneem, met die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur wat erken dat verskeie werksaansoeke wat met die werwingsproses verband hou, ontbreek.

Die saak dien voor hoërhofregter Beatrix de Jager, waar die skoolraad poog om die aanstelling van Teofilus Nuugulu te laat hersien en tersyde te laat stel.

In ’n beëdigde verklaring wat deel vorm van die hofstukke wat in Maart ingedien is, het die uitvoerende direkteur in die onderwysministerie, Mbumba Haitengela, bevestig dat uit 22 aansoeke wat vir die skoolhoofpos ontvang is, agt nie opgespoor kon word nie.

“Die oorblywende agt aansoeke is verlore en/of vernietig, aangesien hulle nie gevind kon word nie, ten spyte van ’n deeglike en langdurige soektog in ons argiewe,” het hy verklaar.

Haitengela het verduidelik dat die werwingsproses in 2024 afgehandel is en dat die ministerie nie aansoeke onbepaald behou nie. Hy het gesê dokumente word van tyd tot tyd vernietig sodra werwingsprosesse afgehandel is, om plek te maak vir nuwe rekords.

Die beëdigde verklaring vorm deel van die ministerie se antwoord op ’n versoek deur die skoolraad vir bykomende dokumente ingevolge hofreëls wat hersieningsverrigtinge beheer.

Die bykomende dokumente wat Haitengela sê die ministerie nou bekend gemaak en aan die raad verskaf het, sluit in: Die advertensie van die vakature, kortlys-kriteria, notules van die onderhoudpaneel, mondelinge onderhoudsvrae, korrespondensie tussen amptenare, e-posse wat tydens die werwingsproses uitgeruil is, ’n omsendbrief van die Staatsdienskommissie oor slaagpunte vir mondelinge onderhoude, briewe en aanbevelings wat met die aanstellingsproses verband hou en ’n uitnodiging aan belanghebbendes om onderhoude waar te neem.

Hy het ook bevestig dat verdere dokumente, insluitend korrespondensie tussen onderwysamptenare gedateer Julie tot Augustus 2024 en ’n e-pos gedateer Oktober 2024 met aanhangsels, opgespoor en by die rekord gevoeg is.

Die skoolraad het die hoërhof genader om Nuugulu se aanstelling te betwis en voer aan die werwingsproses was gebrekkig en dat die suksesvolle kandidaat nie aan die standaarde voldoen wat vereis word om die skool te lei nie.

Nuugulu, wat 61,2% in die onderhoude behaal het, is eerste onder die sewe kandidate op die kortlys gelys. Die raad hou egter vol dat die punt laer is as wat vir ’n skool van WHS se aansien verwag word.

Die raad het ook kommer uitgespreek oor sy beperkte rol in die werwingsproses en sê hy is slegs genooi om onderhoude waar te neem, eerder as om aan kernstadiums soos die samestelling van die kortlys en die ontwerp van die beoordeling deel te neem.

As deel van die hersieningsaansoek het die raad ’n volledige rekord van dokumente versoek wat gebruik is om die aanstellingsbesluit te neem.

Die vermiste aansoeke is na bewering kern tot die geskil, aangesien hulle deel vorm van die amptelike werwingsrekord waarop die hof in ’n geregtelike hersiening steun.

In reaksie hierop het die ministerie bykomende dokumente verskaf, insluitend verdere aansoeke, e-posse en interne rekords, terwyl dit verklaar dat sommige versoekte dokumente nie bestaan nie of nie meer in sy besit is nie.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-06-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer