Vermeende verkragter vroeër vry op borgtog
Die 43-jarige Vehonga Ndura van Otjiwarongo wat daarvan beskuldig word dat hy ’n 15-jarige graad 8-leerling verkrag het, is reeds op 25 Augustus borgtog van N$10 000 toegestaan, ondanks sy formele borgtogaansoek wat vir gister geskeduleer was.
Hofrekords toon dat Ndura se borgtog byna twee weke voor die datum wat aanvanklik deur die Otjiwarongo-landdroshof vasgestel is, oorweeg is.
Staatsaanklaer Wendy Nkando het aan Republikein gesê het dat die klaagster nie sy vrylating op borgtog teengestaan het nie. Ndura word daarvan beskuldig dat hy op 12 Augustus ’n 15-jarige meisie by ’n gastehuis op Otjiwarongo verkrag het.
Die klaagster is glo na ’n byeenkoms by die gastehuis genooi, waar die beweerde voorval later daardie nag sou plaasgevind het. Sy het glo na ’n badkamer gevlug voordat sy later haar ouers ingelig het, wat die saak daarna by die polisie aangemeld het.
Ndura is op 16 Augustus in hegtenis geneem en het twee dae later sy eerste verskyning in die landdroshof gemaak.
Tydens sy eerste verskyning op 18 Augustus het die staat borgtog teengestaan en aangevoer dat polisieondersoeke nog nie afgehandel is nie. Volgens die hofrekord het die staat die erns van die beweerde misdryf, die moontlikheid dat Ndura met polisieondersoeke kan inmeng en die staat se beweerde sterk saak as redes vir teenkanting teen sy vrylating aangevoer.
Die beskuligde se prokureur het destyds aangedui dat die verdediging van plan is om ’n borgtogaansoek te bring en het die dienste van ’n Otjiherero-tolk versoek.
Republikein was in die hof teenwoordig toe die saak tot 7 September vir ’n borgtogaansoek uitgestel is, met Ndura wat in aanhouding gebly het.
Die saak het egter op 25 Augustus weer in die hof gedien. Die hofrekord vir daardie verskyning lui dat borgtog oorweeg is nadat die hof die dossier en ’n verklaring wat deur die klaagster se ma ingedien is, in ag geneem het. Die rekord dui aan dat die klaagster en haar ma nie teen borgtog beswaar gemaak het nie, onderhewig aan voorwaardes.
Nkando het gister aan NMH bevestig dat die klaagster nie borgtog teengestaan het nie. Sy het gesê die staat kan borgtog oorweeg eerder as om met ’n formele, betwiste borgtogaansoek voort te gaan, maar het beklemtoon dat die aanklaer nie die bevoegdheid het om borgtog toe te staan nie.
“Ons oorweeg borgtog in plaas van ’n borgtogaansoek,” het Nkando gesê.
Sy het bygevoeg dat die saak in die hof hanteer is en dat die aanklaer voorleggings aan die hof maak, terwyl die beslissing om borgtog toe te staan by die landdros berus.
“Niks kan sonder die landdros gedoen word nie,” het sy gesê.
Die hof het Ndura borgtog van N$10 000 toegestaan en gelas dat hy nie naby die klaagster mag kom nie en haar nie direk of indirek mag kontak nie. Hy is ook gelas om nie met polisieondersoeke in te meng nie.
Nog ’n persoon is aanvanklik in verband met die beweerde voorval in hegtenis geneem, maar is later vrygelaat en het nie in die hof verskyn nie.
Die staat het vroeër aangedui dat daar onvoldoende bewyse is wat daardie persoon met die beweerde misdryf verbind, omdat die persoon glo nie bewus was van Ndura se beweerde optrede nie.
WERKGEWER
Ndura se vroeëre borgtogverskyning het blykbaar ook sy werkgewer onkant gevang. In ’n gesprek met Republikein gister het Cenored se woordvoerder, Chali Matengu, gesê die maatskappy was onder die indruk dat die saak eers op 7 September weer in die hof sou voorkom.
“Ons het beslis geen idee nie. Ons weet nie, ons het geen idee nie,” het Matengu gesê.
Hy het gesê die maatskappy het doelbewus hul afstand van die strafregtelike verrigtinge gehou weens die sensitiewe aard van die saak. Volgens Matengu wou bestuur nie hê hul betrokkenheid moet die indruk skep dat die maatskappy ’n besondere belang in die strafsaak het of inmeng in ’n aangeleentheid wat een van sy werknemers betrek nie.
Matengu het gesê die maatskappy probeer steeds die feite vasstel voordat besluit word hoe die saak vanuit ’n indiensnemingsperspektief hanteer sal word.
“Ons het HR [menslike hulpbronne] nodig, ons het die hele ding nodig,” het hy gesê en bygevoeg dat die maatskappy nie die uitkoms van ’n lopende strafsaak vooruit kan loop nie.
Ndura het teen gister nog nie werk toe teruggekeer nie.
Die saak is tot 4 November vir verdere ondersoeke uitgestel.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie