Die moordbeskuldigde, mnr. Johannes Tobias, Donderdag in die hoërhof in Windhoek. Foto Kristien Kruger
Die moordbeskuldigde, mnr. Johannes Tobias, Donderdag in die hoërhof in Windhoek. Foto Kristien Kruger

Verhoor oor Reho-mesaanval hervat 2023

Vrou 11 keer met mes gesteek
Die oorledene het op die misdaadtoneel doodgebloei en die beskuldigde is kort daarna in hegtenis geneem.
Kristien Kruger
Die verhoor van ’n man wat daarvan beskuldig word dat hy sy meisie meer as 11 keer met ’n mes gesteek het, het verlede week in die hoërhof in Windhoek begin.

Mnr. Johannes Tobias het ná die voorval op 21 Julie 2021, na bewering vir sy bure in Rehoboth Blok-E gesê hy het haar vermoor en vir hulle haar liggaam gewys. Hy het homself daarna aan die polisie oorgegee. Sy het op die toneel doodgebloei.

Tobias staan tereg op een klag van moord saamgelees met die bepalings van die wet teen huishoudelike geweld.

Hy het aan die beign van sy verhoor onskuldig gepleit en gesê dat hy haar nie vermoor het nie.

Die saak is Donderdag tot 15 Mei uitgestel en is geskeduleer om tot 19 Mei te duur.

MES GLO GEVIND

Een van die polisiebeamptes wat betrokke was by Tobias se inhegtenisname het Donderdag getuig hy het vir Tobias deursoek en ’n mes in sy besit gevind.

Hy het ook getuig dat hy bloedspatsels op Tobias se wit belt opgemerk het.

Volgens Tobias se regsverteenwoordiger, mnr. Salomon Kanyemba, het Tobias vir hom gesê hy het nie ’n mes by hom óf bloed op hom gehad nie.

Kanyemba het ook gesê Tobias beweer toe hy by die huis aangekom het, het hy gesien iemand het by die huis ingebreek.

Hy beweer verder dat die polisie hom van die moord beskuldig het en hom daarna aangerand het. Hy voer ook aan dat die polisie hom nooit van sy regte ingelig het nie.

Me. Ethel Ndlovu verteenwoordig die staat en die saak word deur regter Naomi Shivute aangehoor.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer