Tussentydse interdik teen Cheetah Cement-stakers
Whale Rock Cement, wat die Cheetah Cement-fabriek in Otjiwarongo besit, het vanoggend ’n tussentydse interdik teen hul stakende werkers gekry wat hulle verbied om verder enige van die ooreengekome stakingsreëls te oortree.
Dit volg na die maatskappy ’n dringende aansoek by die hoërhof in Windhoek ingedien het in ’n poging om ’n hofbevel te verkry wat die stakende werknemers dwing om by die reëls te hou.
Volgens die bestuurder van Whale Rock, mnr. Po-Pei Lee, het hulle gevrees dat die arbeidsonrus gewelddadig sou raak indien die hof nie sou intree nie.
Die bedrywighede by die sementfabriek is gestaak as gevolg van die stakende werknemers wat nie by die reëls gehou het nie en die maatskappy het sedert die begin van die staking, op 21 Julie, glo reeds meer as N$14 miljoen se verliese gely.
Regter Marlene Tommasi het beveel dat die stakers nie die in- en uitgange van die terrein mag blokkeer of verhinder nie. Hulle word ook verbied om niestakende werknemers te teister of te dreig nie. Hulle mag ook nie die bedrywighede en aktiwiteite van individue op die terrein verhinder of belemmer nie.
Indien die stakende werknemers nie die hofbevel gehoorsaam nie, het Tommasi die polisie opdrag gegee om in te gryp.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie