No Image Caption

Taxibestuurder vergoed ná aanranding

Rita Kakelo
Die Namibiese regering en polisie moet N$50 000 in skadevergoeding aan ’n taxibestuurder van Windhoek betaal nadat polisiebeamptes hom ernstig voor lede van die publiek aangerand het.

David Shingandje, ’n inwoner van die informele nedersetting Havana, is op 5 November 2023 deur ongeïdentifiseerde polisiebeamptes naby die B1-hoofpad en Langstrandstraat op Otjiwarongo aangerand. Hulle het hom in die gesig geskop en met die vuis geslaan.

Shingandje het verskeie beserings tydens die aanranding opgedoen, waaronder kneusplekke en snye, asook ’n gebreekte tand wat chirurgies verwyder moes word.

In sy eis teen die polisie en regering het die taxibestuurder gesê hy het sielkundige trauma en vernedering ervaar, asook ’n tydelike verlies aan normale funksionering omdat hy onder meer vir twee weke nie behoorlik kon eet nie.

Hy het aanvanklik N$500 000 in skadevergoeding van die regering geëis, verdeel in vergoeding vir fisieke en emosionele lyding, sielkundige skade, sowel as skade aan sy waardigheid en reputasie.

Die saak is egter buite die hof geskik met ’n bemiddelaar wat N$50 000 aan Shingandje toegeken het.

Die polisiebeamptes in die saak is nooit geïdentifiseer nie, maar die regering is as verweerder aanspreeklik gehou omdat die beweerde aanranding deur die betrokke beamptes uitgevoer is wat binne die omvang van hul amptelike pligte opgetree het.

Die regering het ingestem tot die skikking van N$50 000 wat binne drie maande betaalbaar is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer