Partye het gister voor regter Orben Sibeya in die hoërhof in Windhoek verskyn. Foto Argief
Partye het gister voor regter Orben Sibeya in die hoërhof in Windhoek verskyn. Foto Argief

Swakopmunder sleep ministerie hof toe

Stel N$2,3 miljoen se eis in
'n Gevangene in Swakopmund het destyds 'n polisieman se vuurwapen gesteel en uit aanhouding ontsnap.
Kristien Kruger
Ná ’n aangehoudene verlede jaar ’n vuurwapen by ’n polisiebeampte gesteel en uit Swakopmund se polisiekantoor ontsnap het, het ’n inwoner van Swakopmund glo die vuurwapen by hom gekoop.

Die polisie het later dié inwoner in hegtenis geneem. Hy is op borgtog vrygelaat en eis nou sowat N$2,3 miljoen in skadevergoeding in ’n hofsaak teen die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit.

Petrus Moses Shityini beweer hy is in Desember 2022 onwettig in hegtenis geneem en is deur lede van die Namibiese polisie aangerand. Volgens sy eisbesonderhede het hy 64 dae “onwettig” in aanhouding deurgebring.

Volgens die ministerie se pleitstukke het Shityini erken dat hy die vuurwapen vir N$1 500 gekoop het en dat die gesteelde vuurwapen steeds in sy besit is. Hy het glo geweier om die vuurwapen aan owerhede te oorhandig aangesien hy glo sy geld van die verkoper wil terugeis.

Die polisie het hom na bewering gevolglik van die onwettige besit van ’n vuurwapen en dwarsboming van die gereg aangekla.

“Om hom nie in hegtenis te neem nie, sou hom toegelaat het om in die onwettige besit van die vuurwapen te bly en verder die moontlikheid laat dat die gesteelde vuurwapen gebruik kan word om ander misdrywe te pleeg.”

Partye het gister voor regter Orben Sibeya in die hoërhof in Windhoek verskyn vir voorverhoorverrigtinge.

INHEGTENISNAME

Hy beweer sy aanhouding was kwaadwillig en onwettig omdat die polisie hom glo sonder goeie rede van sy vryheid ontneem het.

“As daar bevind word dat die inhegtenisname regmatig was [wat ontken word], was die aanhoudingstydperk van 64 dae kwaadwillig en of onwettig,” lui sy eisbesonderhede.

Die ministerie het in sy pleitstukke ontken dat Shityini sonder redelike gronde in hegtenis geneem is en dui verder daarop dat polisiebeamptes nie bepaal het hoe lank hy in aanhouding moes bly nie.

“Hy het die reg om aansoek om borgtog te doen en daar was geen hindernisse vir hom om sy reg uit te oefen nie. Die aanhoudingstydperk was dus nie kwaadwillig of onwettig nie. Dit was ook nie deur enige beampte veroorsaak nie.”

AANRANDING

Shityini beweer verder dat polisielede hom op 7 Desember 2022 in die Modesa-polisiekantoor aangerand het.

Hulle het hom na bewering met ’n knuppel oor sy liggaam geslaan tot hy op die grond neergeval het. Dit terwyl sy hande agter sy rug geboei was. Daarna het die lede glo aangehou om hom te slaan.

Hy het na bewering gebreekte ribbes, kneusplekke op sy bene, arms en rug opgedoen, asook sielkundige trauma. Die polisie ontken die aanranding.

Shityini eis N$400 000 in skadevergoeding vir die beweerde aanranding asook N$1 920 000 vir die “onwettige” inhegtenisname.

Hy beweer die inhegtenisname het erge emosionele stres, sielkundige trauma, ongemak en verleentheid veroorsaak omdat hy in ’n polisiesel aangehou en in die publiek in hegtenis geneem is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer