Staatskoshuise: ‘Tendergeskille kniehalter kosverskaffing'
Onderwysministerie waarsku kinders kan honger ly
Herhaalde hofuitdagings van die Verkrygingsraad se tendertoekennings bring koshuise se voedselprogramme tot stilstand.
Die voedselbehoeftes van duisende leerlinge in staatskoshuise is sedert 1 April in gedrang.
Die nuut uitgebreide ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur het laat Maandagaand ’n verklaring uitgereik.
Die verklaring het gewaarsku: “. . . vanaf 1 April 2025 kan die leerlinge wat in ons skoolkoshuise gehuisves word sonder voedselvoorraad wees aangesien die dienste van huidige diensverskaffers op 31 Maart 2025 sal eindig.
“Die verkrygingskontrakte van huidige diensverskaffers kan nie verder verleng word nie aangesien die verlengingsgoedkeuring daarvoor, wat deur die destydse ministerie van finansies en staatsondernemings uitgereik is, ook verval het.”
Die ministerie blameer herhaalde appèlaansoeke wat teen die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) se toekenning van die verkrygingskontrakte gebring is.
Die gevolglike vertraging in die finale toekenning van die kontrakte het die ministerie genoop om staat te maak op ses maande se noodverkryging vir voedsel en die aflewering daarvan landswyd.
“Dié (nood)verkrygingsproses is egter nog nie afgehandel nie aangesien dit deurspek was met regsuitdagings van enkele tenderaars,” brei die ministerie uit.
Verwante uitdagings, appèlaansoeke en hofprosedures het die ministerie twee keer voor die CPBN se hersieningspaneel gebring, en drie keer in die hoërhof, volgens die verklaring.
JONGSTE UITDAGING
Die jongste uitdaging tot die proses kom nadat twee van die tenderaars weer ’n hersieningsaansoek gebring het, en ’n tweede hersieningsbevel is op 19 Maart vanjaar uitgereik.
Die ministerie sê hulle het dié bevel eers op 27 Maart skriftelik ontvang waarin die jongste toekenning van die verkrygingskontrak weer eens gestaak is.
Intussen het die hooggeregshof op 24 Maart sy uitspraak gelewer oor ’n appèlaansoek teen ’n klag van minagting van die hof teen die hersieningspaneel, die ministerie van finansies, die ministerie van onderwys en Pamo Trading Enterprises.
Die appèlaansoek is gebring deur die CPBN, saam met Amon Ngavetene, Ono-robby a Nangolo, Martins Kambulu, Hilya Nandango-Herman, Efaishe Nghiidipaa, Julinda !Garus-oas, Mary Ndeshi Hafela Shiimi, Lucia Kazetjikuria en Elizabeth Shiponene.
Regter Petrus Damaseb, regter Hosea Angula en regter Shafimana Ueitele het beslis dat hoërhofregter Rakow Eileen haar verhoor op die minagtingsklag wanbestuur het en dat die saak na haar terugverwys moet word. Die tender (G/ONB/CPBN-1/2020) is aanvanklik in Junie 2020 geadverteer en in Februarie 2021 toegeken.
Pamo was onsuksesvol in dié toekenning en het by die hersieningspaneel om hersiening aansoek gedoen, wat teen Mei 2021 tot ’n hersieningsbevel gelei het.
Die CPBN se bod-evalueringskomitee het in Oktober 2021 besluit dat die herevaluering nie moontlik was nie, weens ’n gebrek aan ’n gedetailleerde uiteensetting van hoe dit beoordeel moes word.
Pamo het toe die hoërhof in Maart 2023 genader en daarin geslaag om die CPBN te dwing om die bod-evalueringskomiteeproses van vooraf te begin.
Die proses is in September 2023 voltooi, met die komitee wat weer eens nie ’n beslissing kon bereik nie. Die CPBN het die tender in Desember 2023 gekanselleer.
Pamo het vertoë teen die kansellasie gerig, wat gelei het tot verdere regstappe, insluitend die oorspronklike aansoek vir minagting van die hof oor die kansellasie van die tender eerder as die herevaluering daarvan.
AANVANKLIKE TERUGVOERING
Volgens die ministerie dui aanvanklike terugvoering van die onderskeie streke daarop dat daar oor die algemeen nog genoeg kos by koshuise is om die leerling tot die einde van die week te voed.
Ouers word aangemoedig om hul betrokke skoolhoofde vir meer inligting te kontak.
Intussen is die minister daartoe verbind om te verhoed dat die leerlinge slagoffers van die situasie word.
“Die ministerie sal te alle tye in die belang van ons leerlinge optree om te verseker dat hul reg op toegang tot onderwys op geen manier geskend word nie,” lui die verklaring. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie