• Tuisblad
  • Howe
  • Staat teken appèl aan teen Amupanda se kostebevel

Staat teken appèl aan teen Amupanda se kostebevel

Verhoor oor Rooilyn begin in Januarie
Die hof het verlede maand beslis dat Job Amupanda nie regskoste hoef te betaal nie al misluk sy aansoek.
Kristien Kruger
In die saak wat die bestaan van die veeartsenykordonheining, ofte wel die Rooilyn, onder die loep bring, appelleer die staat teen die hof se beslissing om ’n bevel uit te reik wat Job Amupanda teen koste beskerm.

Die hoërhof in Windhoek het op 25 Oktober Amupanda se aansoek vir ’n beskermende kostebevel (protective cost order) toegestaan en gelas dat hy geen regskoste hoef te betaal as hy die regsgeding oor die Rooilyn verloor nie.

Bevele van dié aard word uitgereik wanneer iemand kan bewys hy of sy het beperkte finansiële hulpbronne om ’n saak in die hof aan te durf wat in openbare belang is.

Regter Shafimana Ueitele het bevind Amupanda se aansoek oor die Rooilyn is in die openbare belang.

In sy appèl beweer die staat egter dat Ueitele ten gunste van Amupanda beslis het nadat hy tot die gevolgtrekking gekom het dat die regering beter finansiële hulpbronne tot sy beskikking het sonder om glo vas te stel wat die regering se finansiële posisie is.

Ueitele het reeds die staat se aansoek om verlof tot appèl toegestaan en hulle sal dus dié bevel in die hooggeregshof uitdaag.



AANSOEK

Amupanda het onder meer die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme in Mei 2022 hof toe gesleep en ’n hofbevel versoek om die heining te laat verwyder en dit onwettig en ongrondwetlik te verklaar.

In sy gewysigde eis het die aktivis gesê die Rooilyn is opgerig om as ’n skild op te tree en om individue wat suid van die heining woon en hul vee teen waargenome of werklike siektes te isoleer wat voortspruit uit mense en hul vee wat noord van die Rooilyn woon.

Hy het gesê hierdie beskerming en isolasie word nie verleen aan mense en hul vee wat noord van die Rooilyn woon nie en bygevoeg dat dit diskriminerend is.

Amupanda het gesê die heining word steeds gebruik om “die beweging van diere en swart mense van die Noorde na die Suide van Namibië te beheer”.

Volgens hom is die Rooilyn, as koloniale struktuur, ongrondwetlik op grond daarvan dat dit opgerig is om koloniale doelwitte te bereik.

Die regeringsrespondente voer aan dat dit in die openbare belang sal wees as die gebied suid van die heining – wat vry is van bek-en-klouseer – geleidelik uitgebrei word na die gemeenskaplike gebiede noord van die heining. Hulle voer aan dat dit op 'n manier gedoen moet word wat nie veroorsaak dat Namibië sy status by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) verloor as ’n land met gebiede wat vry van bek-en-klouseer is nie.

Die respondente beweer dit sal nie wys wees om die heining skielik te verwyder nie.

Verhoordatums is vir 21 tot 31 Januarie 2025 vasgestel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer