• Tuisblad
  • Howe
  • Staat skik in saak oor ‘mediese nalatigheid’
Foto argief
Foto argief

Staat skik in saak oor ‘mediese nalatigheid’

Tienjarige dood ná mangeloperasie
Die meisie se ouers het aanvanklik byna N$2 miljoen van die staat geëis.
Kristien Kruger
Die staat het besluit om te skik in ’n siviele hofsaak waarin die ma van ’n tienjarige meisie wat dood is ná ’n mangeloperasie, sowat N$1,9 miljoen in skadevergoeding geëis het.

Die bedrag waarop partye ooreengekom het in die skikkingsooreenkoms is nie aan die publiek bekend nie.

Volgens die doodsertifikaat is Thewelensia /Naris se dogter dood omdat sy bloed ingeasem en verstik het en ook weens ernstige bloedverlies ná die operasie wat sy by die Khorixas-hospitaal ondergaan het.

Die voorval het ses jaar gelede plaasgevind en die hofsaak teen die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste en die staat is in April 2021 by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak.

Volgens ’n betroubare bron na aan die saak, was /Naris en haar verteenwoordigers van die Regshulpsentrum (LAC) gereed vir die saak om verhoor te word, maar die ministerie en die staat was ten gunste om ’n skikking te bereik en om te betaal.

Luidens die hofstukke wat op die hof se aanlyn stelsel opgelaai is, het partye twee keer vergader vir hofgefasiliteerde bemiddeling – in Maart 2022 en Oktober 2022 – en albei kere was onsuksesvol. Geen redes is in die kennisgewings verskaf nie.

Volgens ’n voorverhoorbevel wat in Maart vanjaar uitgereik is, was al die partye gereed om met die verhoor te begin. Ten spyte hiervan het partye vandeesmaand besluit om te skik.

AGTERGROND

/Naris het gesê sy het haar dogter in April 2018 vir mediese behandeling geneem en haar kind is daarna geskeduleer vir ’n mangeloperasie.

Volgens die besonderhede van die eis was daar in daardie stadium geen teken van chroniese siektes of enige geskiedenis van bloeding by die kind waargeneem nie.

Kort ná die operasie het die meisie na bewering uit haar mond begin bloei en sy is terug teater toe om die oorsaak van die bloeding te probeer vasstel, maar tydens die prosedure is geen aktiewe bloeding waargeneem nie. Op 11 April 2018, ’n dag ná die operasie, is sy ontslaan.

Twee dae ná die operasie het /Naris haar dogter terug hospitaal toe geneem omdat sy by die huis bloed begin opgooi en algemene swakheid ervaar het. /Naris het ook genoem dat haar kind nie kon eet nie en sy is gevolglik vir waarneming opgeneem.

Drie uur nadat sy weer in die hospitaal opgeneem is, het die tienjarige weer bloed begin opgooi en sy is terug teater toe, maar volgens die hofstukke is daar weer eens geen aktiewe bloeding waargeneem nie.

Sy het toe glo twee eenhede bloed gekry en is in ’n stabiele toestand terug na die algemene saal geneem.

Vier-en-twintig uur later het sy glo buite die saal gaan stap toe sy weer begin bloei het. Die meisie het gesterf ten spyte van beweerde pogings om haar lewe te red.

NALATIGHEID

/Naris en Stanley Gowaseb beweer hul dogter se dood is veroorsaak deur die staatshospitaal se nalatigheid en die personeel se versuim om hul pligte uit te voer.

Die gesondheidsministerie het dr. Martha Konstantin, ’n oor-, neus- en keelspesialis (ENT), se deskundige mening aangevra. Volgens die kliniese rekords het die pasiënt (die kind) 800 ml bloed met klonte begin opgooi.

“Ek was nie teenwoordig tydens die pasiënt se kliniese ondersoek nie, maar op grond van die dokters se notas en bevindinge stem ek saam dat die mediese geskiedenis en kliniese ondersoek deegliker kon gewees het.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 40° Rundu: 20° | 39° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 22° | 36° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 23° | 33° Gobabis: 24° | 34° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 18° | 32° Aranos: 21° | 36° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 17° | 31° Oranjemund: 15° | 22° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 24° | 41° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 19° | 38° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 23° | 36° Maputo: 24° | 41° Windhoek: 23° | 33° Cape Town: 16° | 21° Durban: 19° | 24° Johannesburg: 23° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 23° | 38° Harare: 21° | 36° #REF! #REF!