• Tuisblad
  • Howe
  • 'Sokker-ongeluk' lei tot ernstige breinskade
FOTO TER ILLUSTRASIE. FOTO ARGIEF
FOTO TER ILLUSTRASIE. FOTO ARGIEF

'Sokker-ongeluk' lei tot ernstige breinskade

Rita Kakelo

Ses jaar nadat ‘n doelpaal na bewering op ‘n jong seun by ‘n laerskool geval het, eis sy ma skadevergoeding van miljoene vir die ongeluk wat haar kind met permanente skade gelaat het. 

Volgens hofstukke het die seun op 29 Oktober 2019 saam met vriende sokker by die Laerskool Mariental gespeel toe die doelpaal op hom geval en hy na bewering ‘n ernstige en traumatiese breinbesering opgedoen het. 

Sy ma, Pauline Matheus, eis N$9 miljoen in skadevergoeding van onder meer die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur. Dit sluit in N$1 miljoen vir pyn en lyding en emosionele skok, N$4 miljoen vir verlies aan lewensgerief en ‘n verdere N$4 miljoen vir vorige, huidige en toekomstige mediese uitgawes.

Volgens die hofstukke is die seun na die staatshospitaal op Mariental gehaas, waarna hy na die Katutura Intermediêre Staatshospitaal in Windhoek oorgeplaas en vir weke opgeneem was. Volgens die hofstukke was hy tussen twee en drie weke bewusteloos, moes hy ondersteuning met asemhaling deur ‘n trageostomie ontvang en is hy deur ‘n buis gevoed. 

Volgens Matheus het haar seun se beserings sy lewe permanent verander en is hy aan die regterkant van sy lyf verlam met beperkte beweging in sy regterhand en -pols, terwyl hy probleme met konsentrasie en die beheer van sy gedrag en emosies ervaar. 

Matheus beweer in hofstukke onderwysowerhede het versuim om te verseker dat die skoolomgewing en -toerusting veilig was en die doelpale behoorlik in stand gehou was. 

Die onderwysministerie ering betwis egter die eis op ‘n tegniese punt voordat die hof by die vraag kom wie vir die ongeluk verantwoordelik was en voer aan dat die saak te laat aanhangig gemaak is. 

Die ministerie se prokureur, Ndamonao Ilovu, het daarop gewys dat die ongeluk in Oktober 2019 gebeur het, terwyl die dagvaarding eers in November 2025 aan hulle beteken is.

“Ingevolge artikel 15(1) van die Verjaringswet 68 van 1969 word die loop van verjaring slegs onderbreek deur die betekening aan die skuldenaar van enige proses waardeur die skuldeiser betaling van die skuld eis. Die eiser se gekombineerde dagvaarding en besonderhede van eis is eers op 13 November 2025 aan die verweerders beteken, meer as drie jaar nadat die verjaringstydperk soos beoog in artikel 11(d) van die Verjaringswet 68 van 1969 verstryk het. Gevolglik het die eiser se eis op of omtrent 27 Oktober 2022 verjaar, voor die betekening van die eiser se gekombineerde dagvaarding en besonderhede van eis aan die verweerder,” lui die hofstukke. - [email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-08-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer