Shiweda as heldin begrawe

Kenya Kambowe

Wyle Justine Shiweda is as ’n nasionale heldin beskryf, omdat sy geweier het om die knie te buig voor die misdadigers wat haar aangeval en haar lewe geëis het.

By die begrafnis van die beheeraanklaer van Ondangwa is ’n sterk beroep op strenger strawwe en ’n benadering van geen verdraagsaamheid teenoor misdaad gedoen. 

Shiweda is op 17 Oktober 2025 aangeval toe op haar geskiet en suur oor haar liggaam uitgegooi het.

Daar word beweer dat die aanval op Shiweda verband hou met haar werk as aanklaer ná ’n poging om haar in ’n borgtogsaak om te koop.

Ná sy maande om haar lewe in die hospitaal geveg, het sy op 7 Februarie aan haar beserings in die Lady Pohamba Privaathospitaal in Windhoek beswyk.

Saterdag het honderde roubeklaers na die Onambango-nedersetting in die Oshanastreek hul laaste eer aan wyle Shiweda betoon toe sy tydens ’n waardige, staatsbegrafnis ter ruste gelê is.

Tydens die gedenk- en begrafnisdiens het verskillende sprekers egter ’n soortgelyke eis gedeel: ’n Beroep op strenger vonnisse vir die oortreders en dat die regering meer moet doen om die lewens te beskerm van dié wat toevertrou is om die oppergesag van die reg te handhaaf.

Hoofregter Peter Shivute het in sy toespraak die aanval op Shiweda as meer as net ’n persoonlike tragedie geskets.

Hy het dit as ’n regstreekse aanslag op die Namibiese staat bestempel.

"Wanneer ’n beampte van die hof skade ly terwyl hy of sy wetlike pligte uitvoer, is dit nie bloot ’n aanval op ’n individu nie. Dit is ’n aanval op die stelsel van geregtigheid wat ons almal beskerm,” het Shivute gesê.

Hy het beklemtoon dat die uitvoer van regspligte nie deur geweld of intimidasie voorgeskryf kan word nie en het ’n standvastige reaksie geëis om die integriteit van die hele regstelsel te beskerm. 

Die gevoel is deur president Netumbo Nandi-Ndaitwah in haar toespraak beaam, wat deur eerste minister Elijah Ngurare, voorgelees is: "Shiweda se grusame en sinlose dood het die nasie se gesamentlike gewete geskud." 

Die president het die regering se verbintenis herbevestig om te verseker dat die oortreders voor die gereg gebring word en dit beskryf as die “grootste huldeblyk” wat die land aan haar nagedagtenis kan bring. 

"Ons moet nooit toelaat dat misdaad, intimidasie of geweld regspleging verswak nie," het sy benadruk.

Die president het gesê die nasie maak op die dapperheid van sy regslui staat. 

Die inspekteur-generaal van die Namibiese Polisie, luitenant-generaal Joseph Shikongo, het ook ’n streng waarskuwing gerig teen dié wat staatsamptenare teiken. 

Hy het belowe dat die polisie ten volle verbind bly om te verseker dat ’n deeglike en omvattende ondersoek gedoen word.

Shikongo het verder beklemtoon dat die gesamentlike vasberadenheid van die regstelsel om veiligheid en die oppergesag van die reg te handhaaf, nie afgeskrik sal word deur dade van geweld teen staatsamptenare nie.

Waarnemende aanklaer-generaal, Martha Imalwa, het ook die gevoelens gedeel van dié wat vra dat meer gedoen word om die lewens van hofamptenare te beskerm.

Imalwa het ook ’n beroep op aanklaers gedoen om die moed te hê om hul werk sonder vrees voort te sit en te verseker dat geregtigheid bly seëvier.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer