No Image Caption

Regstelling: Berigte oor Brian Roodt

Hoofredaksie Hoofredaksie
Ná Republikein se berig oor ’n voorval waar die meesterjaggids Brian Roodt, vir Raymond Thourob, ’n sjef werksaam op die lodge van die Britse miljardêr, Harvey Boulter, na bewering aangerand het, het dit duidelik geword hierdie koerant het versuim om Roodt die reg te gee om op Thourob se bewerings te reageer.

Dit geld vir die artikel “Brian Roodt dié keer in sjef se sop” van 29 April 2025, soos bepaal en ooreengekom tydens bemiddelingsgesprekke tussen Roodt en hierdie koerant – ’n vergadering onder voorsitterskap van die media-ombudsman, John Nakuta.

Terwyl Thourob beweer het dat Roodt hom sonder uitlokking of goeie rede aangerand het, het Roodt homself tydens die bemiddelingsverhoor verdedig en dit duidelik gemaak dat hy inderdaad aanstoot geneem het toe Thourob glo ’n uitdagende houding teenoor hom sou ingeneem het.

Republikein wil hiermee verskoning by Roodt aanteken aangesien die koerantberig nie voorsiening gemaak het vir sy kant van die saak nie.

Die koerant en verslaggewer van die betrokke artikels wil die publiek ook daarvan verseker dat daar geen bedoeling was om die indruk te skep dat Roodt ’n rassis sou wees nie – iets wat hy tydens die bemiddelingsgesprekke met die koerant verseker het hy nie is nie. Roodt het ook ten sterkste ontken dat hy ooit personeel se fooitjiegeld gevat het.

Die regstelling en verskoning strek ook tot die feit dat ’n foto van Roodt en ’n krokodil gepubliseer is as deel van ’n meegaande berig “Otji-boer vas oor krokodille” (11 November 2024), wat gehandel het oor ’n ander jagoperateur, Johan van Rensburg, wat in die hof verskyn het op aanklagte van die onwettige besit van ’n lewende krokodil en ’n krokodilkarkas.

Die artikel het uitgebrei oor ’n hofverskyning van Roodt in die Outjo-landdroshof, ’n saak wat nie met krokodille verband hou nie, terwyl die gepubliseerde foto tot openbare waninterpretasie van daardie feit kon gelei het.

Republikein betreur ook dat in die gedrukte uitgawe, sowel as aanlyn, berig is dat Roodt op ’n borgtogbedrag van N$30 000 vrygelaat is. Die korrekte bedrae was N$3 000 vir beweerde onwettige jag en verwante aanklagte in die rondgaande hof op Dordabis in Desember 2023, en N$8 000 vir ’n verdere aanklag van onwettige jag in die Outjo-hofsaak, met laasgenoemde saak wat deur die hof na die aanklaer-generaal verwys is. ’n Saak rakende ’n seekoeijag in die Windhoekse streekhof is intussen van die rol geskrap.

Verder vra die verslaggewer om verskoning vir die verkeerde kommentaar op Republikein se sosiale media, dat Roodt ’n Suid-Afrikaanse burger sou wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer