Regering ontken aanspreeklikheid
Die regering het bewerings in ’n siviele regsgeding van N$2,2 miljoen bevraagteken dat die vyfjarige Ingrid Maasdorp by die skool ontvoer is en dat onderwysowerhede nalatig was.
Die vyfjarige Ingrid is verlede jaar op Okahandja vermoor.
Die regsgeding is in Maart vanjaar deur Dolly Maasdorp, Ingrid se ouma en primêre versorger, aanhangig gemaak.
Maasdorp sê haar kleindogter wat in graad R was, is op 20 Maart 2025 by die Gekombineerde Skool KW von Marees in Okahandja ontvoer, voordat haar liggaam die volgende dag ontdek is.
Maasdorp eis N$2 miljoen vir emosionele pyn en lyding, asook ’n verdere N$200 000 vir sielkundige berading.
In hofstukke wat by die hoërhof in Windhoek ingedien is, voer die staat egter aan dat Ingrid nooit op die betrokke dag by die skool opgedaag het nie.
Volgens die verdediging het leerlinge van 08:00 tot 10:30 klasse bygewoon voordat hulle voor die volgende dag se openbare vakansiedag – ter viering van Onafhanklikheidsdag – huis toe gestuur is, maar Ingrid was glo deurgaans afwesig.
Die regering voer aan dit beteken dat sy nooit in die skool se sorg was nie en verwerp bewerings dat Ingrid van die skool se perseel ontvoer is.
Die staat betwis ook bewerings dat die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur versuim het om sy wetlike verpligting na te kom om ’n veilige leeromgewing te bied, of dat enige optrede deur sy personeel bygedra het tot Ingrid se verdwyning en dood.
Die regering sê ook enige sekuriteitswagte wat by die skool gestasioneer was, is deur ’n private kontrakteur in diens geneem en nie deur die ministerie nie. Gevolglik ontken die staat dat hy vir hul gedrag aanspreeklik gehou kan word.
Die eis om skadevergoeding word ook bevraagteken, met die staat wat aanvoer dat Maasdorp geen berekeninge of deskundige bewyse voorgelê het om die bedrag wat geëis word, te staaf nie.
Die saak is intussen na bemiddeling verwys. Die partye het tot 24 Julie tyd om ’n konsepbevel vir verwysing na bemiddeling in te dien. Indien hulle dit nie doen nie, word daar van hulle verwag om op 28 Julie in die hoërhof te verskyn.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie