Nico Rebebe FOTO VERSKAF
Nico Rebebe FOTO VERSKAF

Redebe doen Maandag aansoek om borgtog

Sestien verdagtes, drie borgtog toegestaan
Nico Rebebe en sy 15 medebeskuldigdes het op 5 November verlede jaar hul laaste hofverskyning in die Opuwo-landdroshof gemaak en die saak is tot 19 Mei vir verdere ondersoek uitgestel.
Kenya Kambowe
Meer as ’n jaar nadat hy in hegtenis geneem is, het Nico Rebebe, wat daarvan beskuldig word dat hy verlede jaar miljoene by Bank Windhoek se Opuwo-tak gesteel het, nog nie ’n formele aansoek om borgtog ingedien nie.

Rebebe is verlede jaar saam met 15 ander in hegtenis geneem, ná die diefstal op 13 Januarie verlede jaar.

Dis egter nog onduidelik hoeveel van die gesteelde geld teruggevind is aangesien die polisie se ondersoek steeds aan die gang is.

Bank Windhoek het toe gesê minder as N$2 miljoen is gesteel en hoewel N$200 miljoen geteiken is, het ’n vinnige ingryping verseker dat die geld wat gebuit is, aansienlik minder was. Buiten vir elektroniese oorplasings het Rebebe glo die bank met ’n rugsak met N$500 000 in kontant verlaat.

Rebebe en sy 15 medebeskuldigdes het op 5 November verlede jaar hul laaste hofverskyning in die Opuwo-landdroshof gemaak en die saak is tot 19 Mei vir verdere ondersoek uitgestel.

Rebebe se regsverteenwoordiger, die regshulpprokureur, Natji Tjirera, het toe aangedring dat die staat sy ondersoeke afhandel.

Van die 16 verdagtes, insluitend Redebe, is drie borgtog toegestaan weens hul geringe betrokkenheid by die saak. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer