Die sogenaamde meesterbrein Nico Rebebe bly in aanhouding. FOTO KENYA KAMBOWE
Die sogenaamde meesterbrein Nico Rebebe bly in aanhouding. FOTO KENYA KAMBOWE

Rebebe was glo by tradisionele geneser

‘Ek is bankrot’
Kenya Kambowe
’n Werknemer van Bank Windhoek se tak op Opuwo en een van die hoofverdagtes in die dramatiese poging tot bankroof in Januarie 2024 het sy stilswye verbreek.

Nico Rebebe het tydens hofverrigtinge beweer sy twee maande lange verdwyning ná die voorval was nie om van die lang arm van die gereg te ontsnap nie, maar ’n reis om tradisionele genesing vir sy diabetes in buurland Angola te soek.

Rebebe, wat in Maart 2024 in hegtenis geneem is nadat hy homself aan die polisie oorgegee het, het in ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) gesê dat hy nooit van plan was om die gereg te ontduik nie. Inteendeel, het Radebe gesê, dit was sy gesondheidsprobleme wat hom gedwing het om alternatiewe behandeling oor die grens te soek. Dit was eers terwyl hy behandeling ontvang het dat hy uitgevind het hy word deur die Namibiese polisie gesoek.

“Ek is Angola toe vir behandeling by ’n tradisionele geneser wat my op ’n driemaandeplan geplaas het. Terwyl ek besig was met my behandeling, het ek uitgevind dat die polisie na my soek,” het Rebebe kalm tydens die onderhoud gesê.



DIE PLAN

Die 32-jarige pa van vyf, wat byna ’n dekade lank as ’n administratiewe klerk by Bank Windhoek se Opuwo-tak gewerk het, word daarvan beskuldig dat hy saamgesweer het om diefstal te pleeg.

Hy het na bewering probeer om N$200 miljoen van die bank oor te plaas. Die bank het later verduidelik dat die betrokke bedrag nader aan N$2 miljoen was – maar teen daardie tyd het die saak reeds nasionale opslae gemaak en Rebebe in die kollig geplaas as die vermeende meesterbrein agter een van Namibië se mees gewaagde finansiële misdade.

Volgens polisieverslae het Rebebe kort nadat die poging tot diefstal ontdek is, verdwyn. Dit het tot ’n klopjag gelei wat eers geëindig het toe hy homself op 7 Maart aan die owerhede oorgegee het. Hy is in hegtenis geneem by sy destydse meisie se huis in Opuwo nadat hy Bank Windhoek se forensiese afdeling gekontak het. Laasgenoemde het hom aangeraai om homself oor te gee. Volgens Radebe het die meisie hul verhouding verbreek, omdat hy so lank weg was.



‘EK IS BANKROT’

Ten spyte van die hoëprofiel-aard van die saak, hou Rebebe vol dat hy onskuldig is.

Volgens hom is hy onregverdig geteiken en as sondebok uitgewys weens swakhede in die bank se interne stelsel.

“My reputasie is dié van iemand wat geld gesteel het, maar ek is bankrot,” het hy gesê.

“Ek word van iets beskuldig wat ek nie gedoen het nie. Die probleem is dat die bank se stelsel swak was. Hoe kon een werknemer so ’n groot bedrag sonder die goedkeuring van die toesighouer oordra?”

Rebebe het ook die logika bevraagteken om hom as die “meesterbrein” te brandmerk, terwyl hy, volgens hom, nie die toegang of die magtiging gehad het om sulke groot transaksies te doen nie.

Volgens hom het hy sy aansoek om borgtog uitgestel aangesien sy regsverteenwoordiger hom aangeraai het om te wag totdat die staat sy ondersoeke afgehandel het en die volledige lys van verdagtes gefinaliseer het.

“Destyds is daar baie beskuldigdes by die saak gevoeg. Dit het nie sin gemaak om aansoek te doen om borgtog toe die staat my steeds as die hoofverdagte beskou het nie,” het hy verduidelik.



BROODWINNER

Noudat 16 van sy medebeskuldigdes borgtog van N$500 tot N$1 500 toegestaan is, het Rebebe gesê hy sal binnekort ’n formele borgtogaansoek indien – heel waarskynlik voor die einde van vanjaar.

Slegs hy en een ander beskuldigde, Festus Bumes, bly in aanhouding.

“Ek wil huis toe gaan en na my vyf kinders omsien. Ek was die broodwinner voordat dit alles gebeur het,” het hy gesê.

Die saak is sedertdien volledig ondersoek en dien nou voor die kantoor van die aanklaer-generaal vir ’n besluit oor of die beskuldigdes verhoor moet word.

Rebebe en die 17 ander beskuldigdes het hul laaste hofverskyning op 1 September in die Opuwo-landdroshof gemaak, waar die saak tot 30 April aanstaande jaar uitgestel is.

Rebebe het gesê die lang vertraging is deels te wyte aan logistieke probleme wat sommige van sy medebeskuldigdes ondervind wat so ver as Rundu en Windhoek woon.

“Hulle het vir die hof gesê dat dit duur is om na Opuwo te reis vir elke verskyning, daarom is die saak vir ’n paar maande uitgestel,” het hy verduidelik.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer