Puma verloor glo duisende per dag
Puma Energy Namibia (Pty) Ltd beweer hy is vroeër vandeesmaand onwettig by twee nasionale lughawens verwyder en verloor sowat N$150 000 per dag.
Puma se dringende aansoek in die hoërhof om weer beheer te kry oor sy lugvaartbrandstof se hervullingsbedrywighede by die lughawens van Eros in Windhoek en Andimba Toivo ya Toivo by Ondangwa, word deur die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) betwis.
Die geskil het betrekking op ’n lugvaartbrandstoftender van N$222 miljoen wat op 17 Januarie 2022 deur NAC aan Central Oil Namibia (Pty) Ltd. toegeken is, ná 'n verkrygingsproses wat in Augustus 2021 begin is.
Die kontrak van 15 jaar het Puma vervang, wat vir ongeveer 18 jaar vliegtuighervullingsdienste by Namibië se lughawens onder konsessie-ooreenkomste bedryf het.
Ten spyte van die tendertoekenning aan Central Oil, het Puma voortgegaan om onder sy vervalde konsessie-ooreenkomste te werk, wat die implementering van die nuwe kontrak effektief vertraag het.
Central Oil het die geskil hof toe geneem en probeer om sy kontrak af te dwing en Puma Energy te dwing om oor te skakel.
Puma, wie se bedrywighede op 11 Maart gestaak is, versoek ’n restitusiebevel, ’n regsmiddel wat daarop gemik is om partye te beskerm wat onwettig of met geweld van eiendom of besit ontneem is, ongeag of hulle dit wettiglik “besit”.
Die saak dien voor regters Gladice Pickering en Gabriel Komboni in die hoërhof in Windhoek.
Voorleggings wat Daneale Beukes, Puma se regsverteenwoordiger, in die hof gemaak het, lui: “Die aansoeker [Puma Energy] kla al lank dat sy besit versteur word. . . en die beweerde ontsetting veroorsaak ’n daaglikse verlies van N$150 000.
“Die aansoeker vra dat sy posisie herstel word, hangende die beslegting van die onderliggende geskille.”
TWEEDE RESPONDENT
NAC, verteenwoordig deur Sisa Namandje, het egter gister aan die regters gesê die aansoek is nie dringend nie en dat enige dringendheid self geskep is.
Volgens NAC was Puma lank reeds bewus daarvan dat die nuwe diensverskaffer, Central Oil (gelys as tweede respondent), die kontrak deur ’n verkrygingsproses toegeken is.
NAC hou vol dat Puma se voortgesette bedrywighede onwettig geword het ná die verstryking van sy konsessie-ooreenkomste en dat die toekenning van sulke dienste deur die wet op openbare verkryging beheer word.
Die lughaweowerheid voer verder aan die toestaan van die hofbevel sou in werklikheid beteken dat Puma sonder ’n geldige verkrygingstoekenning werksaam sal wees en sodoende die statutêre vereistes ondermyn.
“Dit sou die eerste respondent dwing om in stryd met die wet op openbare verkryging op te tree,” voer NAC in sy hofstukke aan.
NAC betwis ook dat Puma in vreedsame en onversteurde besit was en sê dat die teenwoordigheid van Central Oil en vorige geskille reeds enige sodanige beheer ontwrig het.
Daarbenewens voer die owerheid aan dat Puma ander regsmiddele tot sy beskikking het, insluitend om sy appèl, wat tans voor die hooggeregshof hangende is, voort te sit.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie