Psigiater se dringende aansoek geskrap
Die Swakopmundse psigiater, dr. Pieter van der Westhuizen, se “uiters dringende” aansoek in die hoërhof dat sy dissiplinêre verhoor vandeesweek in Windhoek deur die Raad vir Gesondheidsberoepe in Namibië (HPCNA) uitgestel word, is weens ’n gebrek aan dringendheid van die rol geskrap.
Van der Westhuizen se verhoor wat vir 23 tot 27 November geskeduleer is, volg op ’n ondersoek na professionele wangedrag, nadat ernstige bewerings van onprofessionele gedrag deur ’n voormalige pasiënt teen hom gemaak is. Hy het ook die hof versoek vir ’n interdik wat die HPCNA sou verbied om, hangende die uitslag van sy dringende aansoek, ’n ondersoek na professionele wangedrag te begin of uit te voer of enige verdere dissiplinêre bevoegdhede in verband met die bewerings teen hom uit te voer.
Van der Westhuizen moet ook die koste van die HPCNA, sy registrateur en voorsitter van die dissiplinêre verhoor wat drie van die vyf respondente in die aansoek was, se regskoste betaal.
Die HPCNA se registrateur, Cornelius Weyulu, het in sy beantwoordende verklaring gesê Van der Westhuizen was sedert 23 September 2017 bewus van die HPCNA se besluit om hom dissiplinêr te verhoor. Hy is ook van die klaagster se klagte teen hom voorsien en waarop hy by wyse van ’n verklaring op 20 Januarie 2016 gereageer het. Van der Westhuizen was sedert 17 Julie 2026 bewus van die kennisgewing dat hy van 14 tot 18 September voor ’n formele dissiplinêre komitee moet verskyn.
Volgens Weyulu het Van der Westhuizen op 18 Augustus gevra dat die verhoor uitgestel word op grond daarvan dat hy geskeduleer was om ’n mediese prosedure te ondergaan. Die verhoor is gevolglik tot vandeesweek uitgestel, met Van der Westhuizen wat, ten spyte van die feit dat hy van die nuwe datums bewus was, volgens Weyulu eers op 16 November die dringende aansoek ingedien het.
Die dissiplinêre verhoor hou verband met ’n ernstige klag deur ’n voormalige pasiënt dat Van der Westhuizen na bewering op 5 Julie 2015 by sy praktyk tydens haar konsultasie seksuele omgang met haar sou gehad het.
Na bewering het hy tussen 19 Mei 2014 en 14 Julie 2015, terwyl sy sy pasiënt was, glo ook volgens Weyulu se verklaring, onvanpaste en/of romantiese kommunikasie met die pasiënt gehad. Dít tydens die bestaan van ’n dokter-pasiënt-verhouding en terwyl die pasiënt in ’n kwesbare posisie verkeer het wat voortgespruit het uit mag, vertroue en professionele gesag, aldus Weyulu se verklaring.
Hy sê ook in sy verklaring Van der Westhuizen het die reg om enige getuie, insluitend sy voormalige pasiënt, te roep en onder kruisondervraging te neem oor die bewerings wat tot die klagtes teen hom gelei het.
“Daar word gevolglik aangevoer die aansoeker behoort voor die dissiplinêre komitee te verskyn en dat die bevel wat aangevra word, hom nie behoort te vrywaar van die ondersoek na sy gedrag nie,” lui die verklaring.
Met verwysing na die aansienlike tydsverloop sedert September 2017 tot Van der Westhuizen se uiteindelike dissiplinêre verhoor vanjaar, het Weyulu verwys na die HPCNA se “merkbare administratiewe, kapsiteits- en finansiële beperkings” wat bepaal hoe lank klagtes en dissiplinêre prosesse uiteindelik duur.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie