• Tuisblad
  • Howe
  • Prokureur pleit onskuldig in Dis-Chem-diefstalsaak
Eva Maria Nangolo het onskuldig gepleit. FOTO ARGIEF
Eva Maria Nangolo het onskuldig gepleit. FOTO ARGIEF

Prokureur pleit onskuldig in Dis-Chem-diefstalsaak

Saak tot 17 September uitgestel
Die aanklag van dwarsboming van die gereg wat sy in die gesig staar volg nadat sy na bewering geweier het om die sleutels van haar voertuig te oorhandig, waar die items glo versteek was.
Rita Kakelo

Regshulp-prokureur Eva Maria Nangolo het verlede week in die landdroshof in Windhoek onskuldig op aanklagte van diefstal en dwarsboming van die gereg gepleit. 

Nangolo word daarvan beskuldig dat sy items ter waarde van N$3 920 uit die Dis-Chem-winkel by Wernhil Park gesteel het. Die items sluit na bewering sonskerm, vitamien C-produkte en teenverouderingsroom in.

Die aanklag van dwarsboming van die gereg wat sy in die gesig staar volg nadat sy na bewering geweier het om die sleutels van haar voertuig te oorhandig, waar die items glo versteek was.

Nangolo, wat by die ministerie van justisie en arbeidsverhoudinge se direktoraat regshulp in diens is, het weer voor landdros Tony Bock verskyn ná haar inhegtenisneming byna twee maande gelede.

Staatsaanklaer Reinhard Kamatoto het die hof meegedeel dat polisie-ondersoeke afgehandel is en het voortgegaan met ’n pleit ingevolge Artikel 119 van die strafproseswet.

Nangolo het onskuldig op albei aanklagte van diefstal en dwarsboming van die gereg gepleit.

Haar prokureur, Mutimani Litibezi, het die hof meegedeel dat die verdediging in hierdie stadium nie ’n pleitverduideliking sal verskaf nie en die reg voorbehou om getuies te roep indien die saak tot verhoor sou voortgaan.

Die saak is tot 17 September uitgestel en Nangolo bly op borgtog van N$2 000 vrygelaat.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer