• Tuisblad
  • Howe
  • Polisie het bewysstukke geplant, sê Amerikaners
Die moordbeskuldigdes en hulle regsverteenwoordigers gister in die hoërhof in Windhoek. Foto Kristien Kruger
Die moordbeskuldigdes en hulle regsverteenwoordigers gister in die hoërhof in Windhoek. Foto Kristien Kruger

Polisie het bewysstukke geplant, sê Amerikaners

Heckmair-saak gaan vandag voort
Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers het tot dusver beswaar aangeteken teen meeste van die bewysstukke wat die staat by die hof wil indien.
Kristien Kruger
Die twee Amerikaanse burgers wat teregstaan op die moord van mnr. André Heckmair 11 jaar gelede, beweer nou dat die polisie destyds bewysstukke in hul kamer by ’n gastehuis geplant het.

Die beskuldigdes mnre. Kevan Townsend en Marcus Thomas se regsverteenwoordigers, mnre. Mbanga Siyomuinji en Salomon Kanyemba, het tydens inspekteur Felix Ndikoma se hoofgetuienis verskeie kere beswaar aangeteken teen bewysstukke wat die staat by die hof wil indien.

Kanyemba en Mbanga argumenteer dat die beskuldigdes se regte nie aan hulle verduidelik is tydens hul inhegtenisname nie en alle bewysstukke wat gedurende daardie tydperk, vanaf 7 tot 9 Januarie 2011, is ongrondwetlik op beslag gelê.

Toe die staatsaanklaer, me. Antonia Verhoef, gister ’n knaldemper, wat in die beskuldigdes se kamer gevind is, aan die getuie wou oorhandig om vrae aan hom te rig, het Kanyemba en Siyomuinji weer eens beswaar aangeteken.

Buiten vir die argument oor die beskuldigdes se regte, het hulle verder beweer die bewystukke is nie volgens protokol hanteer nie en dat daar met die bewysstukke gepeuter is.

Die beskuldigdes het ook by monde van hul verteenwoordigers gesê die polisie het die bewysstukke in hul kamer geplant.

Siyomuinji en Kanyemba het gisteroggend vir ’n tweede keer ’n binneverhoor versoek in ’n poging om bewysstukke ontoelaatbaar te laat verklaar, maar dié versoek is weer eens afgekeur.

Regter Christie Liebenberg het dieselfde versoek verlede Maandag van die hand gewys.

“Dit is nog te vroeg om te besluit oor die hantering van bewysstukke en of daar met die bewysstukke gepeuter is, aangesien die verdediging eers bewysstukke ten opsigte daarvan sal moet lewer.

“Die beslaglegging van die bewysstukke was wel in ooreenstemming met die wet en dié getuie getuig oor sy eie ervaringe en ek sien nie hoe dit die beskuldigdes sal benadeel nie,” het Liebenberg gesê.

SAAK GAAN VOORT

Ndikoma is steeds besig met sy hoofgetuienis en sal vanoggend omstreeks 10:00 in die hoërhof in Windhoek hervat. Daarna sal die verdediging die geleentheid vir kruisondervraging kry.

Ndikoma het tot dusver getuig oor agt selfone, ’n skootrekenaar, ’n knaldemper en geweerlope wat op 9 Januarie 2011 in kamer 5 van die African Sky Guesthouse gevind is, waar die beskuldigdes ten tyde van die moord gebly het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer