• Tuisblad
  • Howe
  • Pa getuig oor babaseun wat 15 keer met mes gesteek is

Pa getuig oor babaseun wat 15 keer met mes gesteek is

Rita Kakelo
Die pa van die babaseuntjie Amare Boois wat na bewering deur sy ma vermoor is, het gister in die hoërhof in Windhoek getuig hoe hy die beskuldigde, die voormalige polisiebeampte Vapeni Lucia Boois, die eerste keer ontmoet het nadat hy haar ’n saamrygeleentheid na Bethanie gegee het.

Ernst Hammerslaght het sy herinneringe aan sy eerste ontmoeting met die 36-jarige Boois met regter Philanda Christiaan gedeel.

Boois, wat tans in aanhouding is, is in hegtenis geneem en aangekla nadat sy na bewering hul eenjarige babaseuntjie, Amare, twee jaar gelede minstens 15 keer met ’n mes gesteek het.

Hammerslaght, nou geskei, het verduidelik hy was destyds getroud en het twee kinders gehad.

Hy het getuig nadat hy Boois vir die eerste keer ’n saamrygeleentheid gegee het, hulle telefoonnommers uitgeruil en telefonies in kontak gebly het.

“Ek het haar gesê om my te laat weet wanneer sy Windhoek toe kom sodat ons mekaar kon ontmoet, wat sy uiteindelik gedoen het,” het hy gesê.

Hy het verder getuig toe hulle uiteindelik gereël het om te ontmoet, Boois aan hom gevra het: “Wat kry ek hier uit?” Hy het gesê hy het haar N$300 aangebied, wat sy aanvaar het en die twee het later seksuele omgang gehad.



‘OBSESSIEF’

“Die volgende oproep wat ek van Vapeni ontvang het, was om my te vertel sy is swanger,” het hy vertel.

“Ek het dit nie goed hanteer nie, want sy het geweet ek is getroud. Sy het selfs so ver gegaan as om foto’s van haarself in onderklere wat haar bababoepie wys, aan my destydse vrou te stuur. Dit was asof sy obsessief was,” het Hammerslaght gesê en bygevoeg hy het haar herhaaldelik gewaarsku om nie sy vrou te kontak nie.

Volgens Hammerslaght het Boois toe sy aan hul seun geboorte gegee het, vir hom foto’s van haarself en die baba per e-pos gestuur – waarvan sommige weer aan sy vrou gestuur is.

“Ek het nietemin verantwoordelikheid geneem. Ek het geld vir haar gestuur, N$500 by verskeie geleenthede.”

Die pa se getuienis stem ooreen met wat Amare se tante aan vaderskant, Ansua Hammerslaght, vier maande gelede in ’n eksklusiewe onderhoud aan Network Media Hub (NMH) gesê het.

’n Emosionele Ansua het onthou dat Boois Amare in Augustus 2022 na hul huis op Rehoboth gebring het waar die familie hom versorg het totdat sy drie maande later teruggekeer het om hom te kom haal.

Amare se pa het verder in die hof getuig dat sy familie geen ondersteuning van Boois se familielede tydens die begrafnisreëlings ontvang het nie.

Hy het bygevoeg sy lewe was nooit weer dieselfde sedert die dood van klein Amare nie.

Die verhoor sal na verwagting van 27 tot 31 Oktober voortduur.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer