Ouma eis N$2,2 miljoen vir Ingrid se dood

Beweer staat was nalatig
Dolly Maasdorp eis skadevergoeding vir emosionele pyn en lyding, asook vir sielkundige berading.
Staff Reporter

Die ouma van wyle Ingrid Maasdorp (5) wat verlede jaar in Okahandja ontvoer en vermoor is, eis N$2,2 miljoen van die Namibiese regering weens beweerde nalatigheid.

Volgens hofstukke wat by die hoërhof van Namibië ingedien is, het Dolly Maasdorp siviele aksie vir emosionele skadevergoeding, asook die koste van sielkundige behandeling ná die dood van haar kleindogter, teen die staat ingestel.

Ingrid was verlede jaar ’n graad 0-leerling by die Gekombineerde Skool K.W. von Maree op Okahandja.

Die gekombineerde regsgeding lui dat sy na bewering op 20 Maart 2025 deur onbekende persone ontvoer is terwyl sy op die skoolterrein was. Ingrid se liggaam is die volgende dag in ’n tonnel naby die nuwe brug langs die A1-pad in Veddersdal ontdek.

’n Nadoodse ondersoek het later bevestig dat sy verkrag en verwurg is, wat die polisie genoop het om sake van verkragting, moord en dwarsboming van die gereg te open. 

Die tragedie is vererger deur bewerings van die familie dat daar op die dag toe Ingrid afgelaai is, geen skool was nie.

Haar ouma het gesê ouers is nie ingelig dat klasse weens reën gekanselleer is in aanloop tot die vieringe van Onafhanklikheidsdag nie. 

Die familie glo dat beter kommunikasie van die skool moontlik kon verhoed het dat die kind daardie dag skool toe gestuur is.

Die Namibiese polisie het ’n moordondersoek van stapel gestuur en verskeie persone van belang ondervra, terwyl forensiese ondersoeke gedoen is. 


GEEN DEURBRAAK

Maande ná die moord het owerhede egter geen groot deurbraak aangekondig nie, wat die saak onopgelos gelaat en openbare frustrasie aangevuur het.

Die eiser, wat haarself as die kind se ouma aan moederskant en voog ingevolge die wet op kindersorg en -beskerming beskryf, voer aan dat die staat in sy regsplig gefaal het om ’n veilige leeromgewing vir leerllinge te voorsien.

In die besonderhede van die eis voer die eiser aan dat die skool – deur die regering via die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur bedryf – personeel en sekuriteitsbeamptes gehad het wat verantwoordelik was om toegang tot die terrein te beheer en leerlinge te beskerm.

Die hofstukke beweer dat hierdie maatreëls gefaal het, met die kind se ontvoering en dood as gevolg.

“Die verweerder was nalatig deurdat dit in sy statutêre pligte gefaal het om ’n leeromgewing vry van geweld, insluitend ontvoering en leed, te verskaf,” lui die hofstukke.

Die eis voer verder aan dat die skoolhoof, onderwysers en ander ondersteuningspersoneel op daardie tydstip binne die bestek van hul diens opgetree het, wat die staat as plaasvervangers aanspreeklik maak vir hul beweerde nalatigheid.

Maasdorp sê sy het ernstige emosionele trauma opgedoen toe sy van haar kleindogter se dood verneem het.

Sy eis N$2 miljoen skadevergoeding vir emosionele pyn en lyding, asook N$200 000 vir sielkundige berading, wat die totale eis op N$2,2 miljoen te staan bring.

Haar regsverteenwoordiger, Norman Tjombe van Tjombe Incorporated in Windhoek, het die dagvaarding op 12 Maart ingedien.

Die regering het nou 21 dae om aan te dui of dit van voorneme is om die saak te verdedig. Indien geen kennisgewing van voorneme om te verdedig ingedien word nie, kan die eiser ’n verstekvonnis aanvra.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-06-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer