• Tuisblad
  • Howe
  • Ouerpaar eis N$2,1 m. vir ‘baba se sterfte’

Ouerpaar eis N$2,1 m. vir ‘baba se sterfte’

Rita Kakelo
’n Getraumatiseerde paartjie van Grootfontein, Maria Shitana en Justin Matengu, het net twee dae saam met hul pasgebore seuntjie gehad voordat hy in hul arms gesterf het – ’n verlies wat hulle nou aan beweerde mediese nalatigheid deur die Tsumeb Private Hospitaal toeskryf.

Die paartjie het hul teleurstelling uitgespreek oor die optrede van dr. Helmut Basson van die hospitaal en beweer dat hy en die hospitaalpersoneel op die nag toe Shitana opgeneem is, versuim het om voldoende mediese sorg te verleen en die wetlike sorgplig teenoor hul twee dae oue seun, Justin Ikuwa Matengu, in Februarie 2022 geskend het.

Dit het die paartjie genoop om ’n siviele eis van N$2,1 miljoen teen die private hospitaal by die hoërhof in Windhoek in te dien, wat Dinsdag vir ’n bemiddelingsverwysing in die hof was.

Hofstukke wat by die hof ingedien is, dui aan dat Shitana vroegoggend geboorte aan ’n seuntjie geskenk het. Basson het beide ma en kind later dieselfde dag ontslaan, glo sonder om enige komplikasies te identifiseer.

“Op die aand van 27 Februarie 2022 het die baba egter tekens van nood begin toon, insluitend bloeding uit die mond. Die ouers het aanvanklik geglo dat hierdie simptome normaal was, maar het die volgende oggend mediese hulp gesoek toe die baba opgehou drink het aan sy ma en die bloeding voortgeduur het,” lui die dokument.



KRITIEK

Toe Justin weer in die hospitaal opgeneem is, is hy as kritiek bevind en op ’n ventilator geplaas.

Ten spyte van pogings om hom te stabiliseer en ’n oorplasing na Ongwediva Medipark te reël, is die babaseuntjie later daardie middag op 28 Februarie 2022 oorlede.

Daar is later deur middel van mediese notas, wat as bewyse in die hof ingedien is, onthul dat die baba se asemhalingspyp twee keer losgekom het terwyl hy aan ’n ventilator gekoppel was, wat effektief sy suurstoftoevoer afgesny het.

Die familie beskuldig ook die mediese personeel daarvan dat hulle versuim het om die baba se onderliggende toestande te diagnoseer en te behandel, wat ’n vitamien K-tekort, biliêre atresie (’n ernstige, skaars lewertoestand) en ’n aangebore afwyking ingesluit het.

Verpleegsters het blykbaar die dokter (Basson) in kennis gestel van die baba se verswakkende toestand, maar hy het na bewering nie betyds gereageer nie. Teen die tyd dat hy die kind wel besoek het, was die baba reeds dood.

Ná die voorval het die paartjie ’n klag by die Mediese en Tandheelkundige Raad van Namibië ingedien, wat ’n ondersoek met die hulp van ’n neonatoloog gedoen het.

Die bevindings het bevestig dat die baba aan ernstige mediese toestande gely het wat nie behoorlik geïdentifiseer of behandel is nie.



HOSPITAAL SE REAKSIE

Dr. Marco Kruger, die superintendent van die hospitaal, het in sy beëdigde verklaring verduidelik dat hospitaalpersoneel, insluitend Basson, die pasgebore baba ondersoek het en op simptome wat destyds teenwoordig was, gereageer het.

Volgens hom was daar geen sigbare tekens wat daarop gedui het dat die baba biliêre atresie – wat eers later deur ’n nadoodse ondersoek bevestig is – gehad het nie.

Kruger het gesê die baba het stabiel voorgekom en daar was geen waarskuwingstekens wat verdere spesialistoetse of verwysings sou regverdig het nie.

“Mediese personeel het behandel wat hulle waargeneem het en die situasie het nie die vermoede van 'n lewensbedreigende siekte laat ontstaan nie,” het hy gesê

Kruger het volgehou dat die hospitaal toegelaat moet word om sy saak te verdedig, aangesien dit ’n antwoord het op die ouers se eis van N$2 miljoen. Sonder daardie geleentheid sou die hospitaal onregverdig benadeel word. Aan die ander kant sou die toestaan van ’n verlenging vir die hospitaal om sy antwoord in te dien, min tot geen nadeel aan die paartjie veroorsaak nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer