Oudoffisier se saak teen ministerie vorder
Bemiddeling was onsuksesvol
'n Afgetrede weermagbevelvoerder het verlede jaar die veiligheidsministerie hof toe gesleep omdat hy na bewering onregmatig in hegtenis geneem en aangehou is.
’n Afgetrede weermagoffisier se saak teen die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, waarin hy altesaam sowat N$420 000 se skadevergoeding eis, se verhoordatum is binnekort.
Die voormalige generaal-majoor Thomas (Nopoudjuu) Hamunyela (64) het verlede jaar die veiligheidsministerie hof toe gesleep vir beweerde onwettige inhegtenisname en aanhouding nadat hy op 12 Januarie 2021 op Rundu op ’n klag van veediefstal in hegtenis geneem is.
Hamunyela was tot 2017 ’n bevelvoerder in die Namibiese weermag.
Die ministerie beweer in pleitstukke die inhegtenisname en aanhouding was wettig en dat hulle, in teenstelling met wat Hamunyela aanvoer, ’n redelike vermoede gehad het dat hy beeste van Kaparara Crush Pan in die Kavango-Wesstreek gesteel het.
Hamunyela was vanaf 12 Januarie tot 15 Januarie 2021 in aanhouding waarna hy op borgtog vrygelaat is.
Die saak is by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak en die partye het op 20 Augustus verlede jaar vergader vir hofgefasiliteerde bemiddeling, wat onsuksesvol was.
Die partye maak nou gereed vir verhoor en die saak sal voor regter Esi Schimming-Chase aangehoor word.
Die saak van diefstal teen Hamunyela is nog nie gefinaliseer nie.
‘ERNSTIGE OORTREDING’
Hamunyela beweer in sy eisbesonderhede die Namibiese polisie het hom sonder ’n arrestasiebevel in hegtenis geneem en dit nie ingevolge wetgewing was nie.
“Veediefstal is ’n ernstige oortreding wat die uitoefening van diskresie regverdig om die eiser sonder 'n arrestasiebevel in hegtenis te neem. Met die eiser se verskyning in die hof, het die hof sy inhegtenisname as wettig bevestig,” lui die ministerie se pleitstukke.
Hamunyela beweer verder indien dit nie vir die onwettige optrede van die Namibiese polisiebeamptes, hul wanvoorstelling van die feite en hul kwaadwillige gemotiveerde teenkanting teen die eiser se vrylating was nie, sou die hof die eiser reeds op 13 Januarie op borgtog vrygelaat het.
“Tydens die eiser [Hamunyela] se aansoek om borgtog in die landdroshof, het die ondersoekbeampte die eiser se aanhouding onregmatig verleng deur sy weergawe te versin. Dit het daartoe gelei dat die eiser eers op 15 Januarie vrygelaat is,” lui die eisbesonderhede.
Die ministerie ontken dié aantyging.
“Die hof behou die uiteindelike diskresie om te bepaal wanneer 'n beskuldigde op borgtog vrygelaat moet word. Die ondersoekbeampte het nie sy weergawe versin nie en het tydens die hofverrigtinge professioneel opgetree.”
TOEVOEGING VAN PARTYE
Die ministerie het aangevoer die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie moet by die saak toegevoeg word omdat hy ’n aansienlike belang in die hof se beslissing het.
Hamunyela het dié versoek teengestaan en geëis dat die aansoek met koste van die hand gewys word.
Schimming-Chase het op 26 April die versoek van die hand gewys en beslis dat die inspekteur-generaal nie by die saak gevoeg hoef te word nie.
Mnr. Sisa Namandje verteenwoordig Hamunyela.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie